Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:17-26 Bybel vir Almal (ABA)

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het nog 15 jaar gelewe nadat Joas seun van Joahas koning van Israel gesterf het.

18. Die ander dinge wat Amasia gedoen het, is geskryf in die dagboek van die konings van Juda.

19. Mense in Jerusalem het besluit om Amasia dood te maak. Hy het gevlug na die stad Lakis, maar hulle het mense daarnatoe gestuur om hom te vang, en hulle het hom daar doodgemaak.

20. Hulle het sy liggaam op perde teruggebring, en hulle het hom begrawe in Jerusalem by sy voorvaders in die Dawidstad.

21. Al die mense in Jerusalem het toe vir Ussia geneem en hulle het hom koning gemaak ná sy pa Amasia. Ussia was toe 16 jaar oud.

22. Dit is hý wat die stad Elat weer gebou het en wat die stad teruggevat het vir Juda. Ussia het dit gedoen nadat koning Amasia gesterf het.

23. Jerobeam seun van Joas het in Samaria koning van Israel geword in die vyftiende jaar nadat Amasia koning van Juda geword het. Jerobeam was 41 jaar lank koning.

24. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

25. Jerobeam seun van Joas het die grond weer teruggevat wat voorheen aan Israel behoort het, dit was van die stad Lebo-Hamat tot by die Dooie See. Dit het gebeur soos die Here gesê het toe Hy sy dienaar Jona seun van Amittai gestuur het om ’n boodskap te bring. Jona was die profeet wat van die stad Gat-Gefer gekom het.

26. Die Here het gesien dit gaan sleg met Israel, baie sleg. Daar was toe niemand wat vir Israel kon help nie, nie ’n slaaf of ’n vry mens nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14