Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daar was ’n man van die Benjamin-stam. Sy naam was Kis, en hy was die seun van Abiël seun van Serur seun van Bekorat seun van Afiag. Hy was ’n belangrike man in die Benjamin-stam.

2. Kis het ’n seun gehad, die seun se naam was Saul. Saul was ’n mooi jongman, niemand van die Israeliete was mooier as hy nie, en hy was ’n kop langer as al die ander Israeliete.

3. Kis se donkies het weggeraak, en hy het vir sy seun Saul gesê: “Jy moet asseblief een van die slawe saam met jou neem en julle moet die donkies gaan soek.”

4. Saul en die slaaf het by die Efraim-berge verbygegaan en toe verby die Salisa-distrik, maar hulle het nie die donkies gekry nie. Toe het hulle verby die Saälim-distrik en verby die Jemini-distrik gegaan, maar hulle het die donkies ook nie daar gekry nie.

5. Toe hulle in die Suf-distrik kom, sê Saul vir die slaaf by hom: “Kom ons gaan terug, my pa sal vergeet van die donkies en hy sal bekommerd word oor ons.”

6. Die slaaf het vir Saul gesê: “Nee wag, daar is ’n man van God in hierdie stad. Die mense respekteer hom baie, want alles wat hy sê, gebeur soos hy gesê het. Kom ons gaan na hom toe, miskien kan hy vir ons sê waar ons moet soek.”

7. Toe sê Saul vir die slaaf: “Maar as ons gaan, wat kan ons vir die man saamneem? Want die brood in ons sakke is op. Wat het ons wat ons vir die man van God kan gee?”

8. Die slaaf het geantwoord: “Ek het nog ’n kwart-sikkel silwer by my. Ek sal dit vir die man gee sodat hy vir ons kan sê waar ons moet soek.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9