Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 8:7-21 Bybel vir Almal (ABA)

7. en die Here het vir hom gesê: “Jy moet alles doen wat die volk wil hê, want dit is nie vir jóú wat hulle nie wil hê nie, dit is vir Mý wat hulle nie wil hê nie. Hulle wil nie hê dat Ek hulle Koning moet wees nie.

8. Hulle het dit gedoen vandat Ek hulle uit Egipte gebring het tot vandag toe. Hulle het My gelos en hulle het ander gode gedien, en nou doen hulle dieselfde met jou.

9. Maar nou moet jy doen wat hulle vra. Jy moet hulle net eers ernstig waarsku en vir hulle sê wat die koning alles mag doen, die koning wat oor hulle sal regeer.”

10. Die volk wou ’n koning hê, en Samuel het vir hulle alles gesê wat die Here vir hom gesê het.

11. Hy het gesê: “Die koning wat oor julle sal regeer, mag baie dinge doen: Hy sal julle seuns vat en hy sal hulle aanstel by sy oorlogkarre of om op sy perde te ry of om voor sy oorlogkar te hardloop.

12. Hy sal party van julle seuns aanstel om offisiere te wees, om sy grond te ploeg en koring te saai en af te sny, om wapens te maak of die goed wat hy by sy oorlogkar gebruik.

13. Hy sal julle dogters vat om vir hom salf te meng of om vir hom te bak en kos te kook.

14. Hy sal julle beste lande en wingerde en olyfboorde vat en hy sal dit vir sy amptenare gee.

15. Hy sal ’n tiende van julle koring en julle druiwe vat en hy sal dit vir sy offisiere en sy amptenare gee.

16. Hy sal julle beste slawe en slavinne en julle donkies vat en hy sal hulle gebruik om vir hom te werk.

17. Hy sal ’n tiende van julle skape en bokke vat, en julle self sal sy slawe wees.

18. Dan sal julle bid en vra dat die Here julle moet help teen die koning wat julle wou hê, maar die Here sal julle nie antwoord nie.”

19. Maar die volk wou nie luister na Samuel nie. Hulle het gesê: “Nee, ons wil ’n koning hê.

20. Ons wil wees soos al die ander volke. Ons koning moet oor ons regeer en hy moet ons lei wanneer ons oorlog maak.”

21. Samuel het geluister na wat die volk sê en hy het dit vir die Here gesê.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 8