Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 7:10-17 Bybel vir Almal (ABA)

10. Samuel was besig om die brand-offer vir die Here te bring, toe kom die Filistyne nader om oorlog te maak teen die Israeliete. Die Here het daardie dag ’n harde donderslag oor die Filistyne laat slaan, en Hy het hulle baie bang laat word. Die Israeliete het gewen teen die Filistyne.

11. Die manne van Israel het uit Mispa gegaan en hulle het die Filistyne gevolg en gejaag tot anderkant die stad Bet-Kar.

12. Samuel het ’n klip geneem en hy het dit regop laat staan tussen Mispa en Sen. Hy het die klip genoem Eben-Haeser, en gesê: “Die Here het ons tot hier gehelp.”

13. Die Filistyne het die oorlog verloor en hulle het nie weer in die Israeliete se land gekom nie. Die Here het die Filistyne laat swaarkry al die jare wat Samuel gelewe het.

14. Die Israeliete het die stede tussen Ekron en Gat teruggekry wat die Filistyne van hulle gevat het. Daar was ook vrede tussen die Israeliete en die Amoriete.

15. Samuel was die leier van die Israeliete al die jare wat hy gelewe het.

16. Hy het elke jaar by die stede Bet-El en Gilgal en Mispa gekom en hy was by al hierdie plekke die regter van die Israeliete.

17. Daarna het hy dan teruggegaan na Rama, want sy huis was daar en hy was daar ook die regter. Hy het daar in Rama ’n altaar gebou vir die Here.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 7