Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28:14-22 Bybel vir Almal (ABA)

14. Saul het vir haar gevra: “Hoe lyk hy?”En sy het gesê: “Hy lyk soos ’n ou man, en hy dra ’n bo-kleed.”Saul het toe geweet dit is Samuel. Saul het gekniel en hy het laag gebuig.

15. Samuel het vir Saul gesê: “Hoekom is jy lastig? Hoekom laat jy my kom?”Saul sê toe: “Ek het baie probleme. Die Filistyne maak oorlog teen my, en God het weggegaan van my. Hy het my nie geantwoord nie, nie met die profete nie en nie met drome nie. Toe het ek vir jóú geroep, jy moet vir my sê wat ek moet doen.”

16. Samuel het gesê: “Die Here het weggegaan van jou en Hy het jou vyand geword. Hoekom vra jy nou vir mý om jou te help?

17. Die Here het gedoen wat Hy gesê het. Hy het my gestuur om vir jou te sê jy sal nie meer koning wees nie, Hy sal ’n ander man koning maak. Daardie man is Dawid.

18. Die Here het dit gedoen omdat jy ongehoorsaam was aan Hom. Hy was kwaad vir die Amalekiete, en jy het nie gedoen wat Hy vir jou gesê het nie.

19. Die Here sal die Filistyne laat wen teen die Israeliete en teen jou, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal die Filistyne laat wen teen die manne van Israel.”

20. Saul het plat op die grond geval. Hy was baie bang oor wat Samuel gesê het. Hy was ook swak, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.

21. Die vrou het na Saul toe gekom en sy het gesien hoe bang hy is. Sy het vir hom gesê: “Luister na my, ek het gedoen wat jy gevra het. Dit was baie gevaarlik vir my, maar ek het geluister na jou.

22. Nou moet jy luister na mý. Ek sal vir jou ’n bietjie kos bring sodat jy kan eet en sterk kan word voordat jy verder gaan.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 28