Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:32-42 Bybel vir Almal (ABA)

32. Toe sê Dawid vir Abigajil: “Ek prys die Here, die God van Israel, wat jou vandag na my toe gestuur het.

33. En ek prys jou wat so verstandig is. Jy het my vandag gekeer en ek het nie onskuldige mense doodgemaak en self mense gestraf nie.

34. Want so seker soos die Here, die God van Israel, lewe, as jy nie gou gemaak het en na my toe gekom het nie, dan sou nie een man of seun van Nabal môre vroeg nog gelewe het nie. Die Here het my gekeer sodat ek nie aan jou iets gedoen het wat sleg is nie.”

35. Dawid het die kos geneem wat Abigajil gebring het en hy het vir haar gesê: “Gaan huis toe, jy moenie bekommerd wees nie. Ek het gehoor wat jy gesê het en ek sal doen wat jy gevra het.”

36. Toe Abigajil by Nabal kom, was hy besig om fees te vier in sy huis. Dit was ’n fees soos die fees van ’n koning. Hy het gelukkig gevoel en hy het baie dronk geword. Abigajil het vir Nabal niks vertel nie, sy het gewag tot vroeg die volgende oggend.

37. Die volgende oggend toe Nabal nie meer dronk was nie, het sy vrou vir hom vertel wat gebeur het. Nabal het ’n hartaanval gekry, sy hart het soos klip geword.

38. En omtrent tien dae later het die Here vir Nabal laat sterf.

39. Toe Dawid hoor dat Nabal dood is, het hy gesê: “Ek prys die Here wat vir Nabal gestraf het omdat hy my beledig het. Die Here het my gekeer, ek het nie ’n slegte ding gedoen nie, en Hy het vir Nabal gestraf omdat hy ’n slegte ding gedoen het.”Dawid het mense gestuur om vir Abigajil te vra om met hom te trou.

40. Die manne van Dawid het by Abigajil in Karmel gekom en hulle het vir haar gesê: “Dawid het ons na jou toe gestuur. Ons moet vir jou vra om met hom te trou.”

41. Sy het opgestaan en laag gebuig. Sy het gesê: “Hier is ek, ek sal Dawid se slavin wees en ek sal sy manne se voete was.”

42. Abigajil het gou gereedgemaak en sy het op ’n donkie geklim. Haar vyf slavinne het saam met haar geloop. Sy het saam met die boodskappers van Dawid gegaan, en sy het met Dawid getrou.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25