Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:15-24 Bybel vir Almal (ABA)

15. Maar Dawid se manne was baie goed vir ons. Daardie tyd toe ons rondgetrek het en toe hulle saam met ons in die veld was, het niks weggeraak nie.

16. Hulle het ons in die dag en in die nag beskerm toe ons saam met hulle was en die skape opgepas het.

17. En nou, jy moet dit weet en jy moet dink wat jy kan doen, want dit sal sleg gaan met ons meneer en met almal in sy huisgesin. Hy is ’n slegte man, dit help nie om met hom te praat nie.”

18. Abigajil het toe gou gemaak. Sy het 200 brode geneem en twee velsakke wyn en vyf skape wat hulle klaar geslag het en vyf sea gebraaide koring en 100 koeke rosyne en 200 koeke gedroogde vye. Sy het dit op donkies gelaai

19. en sy het vir haar slawe gesê: “Julle moet voor my gaan, ek sal later kom.”Sy het niks vir haar man Nabal gesê nie.

20. Sy het op ’n donkie gery en teen die ander kant van die berg afgegaan en daar kry sy toe vir Dawid en sy manne wat na haar toe aankom.

21. Dawid het gedink: Ek het alles in die woestyn opgepas wat aan hierdie man behoort, maar dit het my niks gehelp nie. Daar het niks van hom weggeraak nie. Ek was goed vir hom, maar hy het slegte dinge gedoen aan my.

22. Ek sal hom doodmaak. God moet my straf, Hy moet aanhou om my te straf as ek een man of seun van Nabal lewendig laat oorbly.

23. Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy van die donkie afgeklim en laag voor Dawid gebuig, haar gesig was teen die grond.

24. Sy het by Dawid se voete gaan lê en gesê: “Meneer, dit is my skuld. Ek wil asseblief met jou praat, jy moet luister na my.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25