Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:13-30 Bybel vir Almal (ABA)

13. Toe sê Dawid vir sy manne: “Maak vas julle swaarde.”Almal het hulle swaarde vasgemaak, en Dawid het dit ook gedoen. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan, en 200 manne het by die goed gebly.

14. Maar een van Nabal se manne het vir Abigajil gaan sê: “Weet jy dat Dawid boodskappers uit die woestyn gestuur het om ons meneer te groet? Ons meneer het hulle toe beledig.

15. Maar Dawid se manne was baie goed vir ons. Daardie tyd toe ons rondgetrek het en toe hulle saam met ons in die veld was, het niks weggeraak nie.

16. Hulle het ons in die dag en in die nag beskerm toe ons saam met hulle was en die skape opgepas het.

17. En nou, jy moet dit weet en jy moet dink wat jy kan doen, want dit sal sleg gaan met ons meneer en met almal in sy huisgesin. Hy is ’n slegte man, dit help nie om met hom te praat nie.”

18. Abigajil het toe gou gemaak. Sy het 200 brode geneem en twee velsakke wyn en vyf skape wat hulle klaar geslag het en vyf sea gebraaide koring en 100 koeke rosyne en 200 koeke gedroogde vye. Sy het dit op donkies gelaai

19. en sy het vir haar slawe gesê: “Julle moet voor my gaan, ek sal later kom.”Sy het niks vir haar man Nabal gesê nie.

20. Sy het op ’n donkie gery en teen die ander kant van die berg afgegaan en daar kry sy toe vir Dawid en sy manne wat na haar toe aankom.

21. Dawid het gedink: Ek het alles in die woestyn opgepas wat aan hierdie man behoort, maar dit het my niks gehelp nie. Daar het niks van hom weggeraak nie. Ek was goed vir hom, maar hy het slegte dinge gedoen aan my.

22. Ek sal hom doodmaak. God moet my straf, Hy moet aanhou om my te straf as ek een man of seun van Nabal lewendig laat oorbly.

23. Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy van die donkie afgeklim en laag voor Dawid gebuig, haar gesig was teen die grond.

24. Sy het by Dawid se voete gaan lê en gesê: “Meneer, dit is my skuld. Ek wil asseblief met jou praat, jy moet luister na my.

25. Meneer, jy moet asseblief nie dink aan wat hierdie slegte man Nabal gesê het nie, want hy is soos sy naam sê. Sy naam is Nabal en hy is ’n dwaas. Ek het nie Meneer se manne gesien wat jy gestuur het nie.

26. Maar nou, Meneer, so seker soos die Here lewe en so seker soos jy lewe, dit is die Here wat keer sodat jy nie onskuldige mense doodmaak wanneer jy jou vyande wil straf nie. Ek bid dat dit met jou vyande sal gaan soos met Nabal. Ek bid dat dit ook so sal gaan met almal wat wil hê dat dit sleg moet gaan met Meneer.

27. En nou, ek het hierdie presente vir Meneer gebring sodat jy dit kan gee vir die manne wat jou volg.

28. Vergewe my asseblief as ek iets verkeerd gedoen het. Die Here sal jou en jou familie altyd beskerm, want Meneer veg die oorloë van die Here. Jy moet niks doen wat verkeerd is nie, so lank soos jy lewe.

29. Wanneer iemand jou jaag en jou wil doodmaak, dan sal jou God die Here jou beskerm, Hy sal jou vyande weggooi soos ’n mens ’n klip weggooi met ’n slingervel.

30. Die Here sal met Meneer doen wat Hy gesê het. Hy sal dit goed laat gaan met jou, en Hy sal jou die koning van Israel maak.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25