Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 18:8-21 Bybel vir Almal (ABA)

8. Saul het baie kwaad geword, hy het niks daarvan gehou nie. Hy het gesê: “Hulle sê Dawid het tienduisende manne oorwin, maar ek het net duisende oorwin. As hulle so aanhou praat, dan sal hy die koning word in my plek.”

9. Daarom het Saul van daardie dag goed gekyk of Dawid iets verkeerd doen.

10. Die volgende oggend het ’n bose gees in Saul gekom. Saul het soos ’n profeet gepraat, en Dawid het musiek gemaak soos hy voorheen gedoen het. Saul se spies was in sy hand,

11. en hy het die spies na Dawid gegooi, hy wou vir Dawid teen die muur vassteek met die spies. Hy het die spies twee maal gegooi, maar elke maal het Dawid weggespring.

12. Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was by Dawid en Hy was nie meer by Saul nie.

13. Saul het vir Dawid weggestuur van hom. Hy het vir Dawid ’n offisier oor 1 000 manne gemaak, en Dawid het die manne gelei. Dit het oral goed gegaan met Dawid.

14. Die Here was by hom.

15. Saul het gesien dat dit baie goed gaan met Dawid, en hy het bang geword vir Dawid.

16. Al die manne van Israel en Juda het lief geword vir Dawid, want hy het hulle gelei.

17. Saul het vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Ek gee haar vir jou om jou vrou te wees. Maar ek wil hê jy moet ’n dapper man wees en jy moet die oorloë van die Here veg.”Saul het gedink: Ek wil nie self vir Dawid doodmaak nie, die Filistyne sal dit doen.

18. Maar Dawid het vir Saul gesê: “Ek en my familie is nie belangrike mense nie. Ek kan nie die koning se skoonseun word nie.”

19. En toe die tyd kom dat Merab met Dawid moes trou, het Saul haar laat trou met Adriël van Megola.

20. Maar Saul se dogter Mikal was verlief op Dawid, en toe Saul dit hoor, het hy gedink dit is goed.

21. Hy het gedink: Ek sal haar vir Dawid gee, maar ek sal dit só doen dat die Filistyne hom kan doodmaak.Saul het toe ’n tweede maal vir Dawid gesê Dawid kan sy skoonseun word.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 18