Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Samuel het vir koning Saul gesê: “Die Here het my gestuur om jou te salf sodat jy koning kan wees oor sy volk Israel. Nou moet jy luister na wat die Here sê.

2. Die Here wat oor alles regeer, sê: Ek het gesien wat die Amalekiete aan die Israeliete gedoen het. Hulle het die Israeliete aangeval toe die Israeliete uit Egipte gekom het.

3. Nou moet jy die Amalekiete gaan aanval en oorwin, en jy moet alles doodmaak wat hulle het. Jy moenie jammer wees vir hulle nie, jy moet almal doodmaak: mans en vroue, kinders en babas, beeste, skape, kamele en donkies.”

4. Saul het toe die manne laat roep en hy het hulle laat bymekaarkom in Telaim. Daar was 200 000 manne van Israel en 10 000 manne van Juda.

5. Saul het gekom tot by die stad van die Amalekiete. Hy en die manne het in die vallei weggekruip en hulle het vir die Amalekiete gewag.

6. Saul het vir die Keniete ’n boodskap gestuur. Hy het gesê: “Julle moet weggaan van die Amalekiete, julle moenie by hulle bly nie. Dan sal ons julle nie doodmaak saam met die Amalekiete nie, want julle het goed gedoen aan die Israeliete toe hulle uit Egipte gekom het.”Die Keniete het toe weggegaan van die Amalekiete,

7. en Saul het die Amalekiete aangeval. Hy het hulle oorwin, van die land Gawila tot by Sur, oos van Egipte.

8. Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig gevang maar hy het al die ander Amalekiete doodgemaak.

9. Saul en die manne het Agag laat lewe, en ook die beste en vetste skape, bokke en beeste. Hulle wou nie al die goeie diere doodmaak nie. Hulle het al die maer en swak diere doodgemaak.

10. Die Here het vir Samuel gesê:

11. “Ek is jammer dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy was ontrou, hy het nie gedoen wat Ek gesê het nie.”Samuel was baie bekommerd en ontsteld. Hy het die hele nag tot die Here gebid en gevra dat die Here hom moet help.

12. Hy het vroeg die oggend opgestaan om Saul te gaan ontmoet. Iemand het vir Samuel gesê: “Saul het na Karmel-berg gekom, en weet jy wat het hy gedoen? Hy het vir homself ’n gedenkteken ingeplant. Daarna het hy verder gegaan na die stad Gilgal.”

13. Samuel het na Saul toe gegaan, en Saul het vir hom gesê: “Ek bid dat die Here dit goed sal laat gaan met jou. Ek het gedoen wat die Here gesê het.”

14. Toe sê Samuel: “Maar hoekom hoor ek skape en bokke blêr en beeste bulk?”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15