Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:11-23 Bybel vir Almal (ABA)

11. Alles wat belangrik is, alles wat sterk is, al die lig behoort aan U. Almal weet van U, die Koning in die hemel en op die aarde. Here, U is Koning, U is belangriker as almal en alles.

12. U maak mense ryk en U gee vir hulle eer, dit is Ú wat oor alles regeer. U is sterk en U kan alles doen, en dit is U wat ’n mens groot en sterk kan maak.

13. Daarom prys ons U, ons God, ons sing oor u wonderlike Naam.

14. Maar wie is ek en wie is my volk wat hierdie goed vir U kan bring? Ons bring dit vir U, maar alles kom van U, en ons gee weer vir U die goed wat aan U behoort.

15. Want ons is soos ons voorvaders, ons is ook soos vreemdelinge by U. Ons is naby U omdat U sê ons mag naby U wees. Ons lewe op die aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan gou verby.

16. Ons God die Here, ons het al hierdie goed gereedgemaak om ’n tempel te bou vir U, die heilige God, maar al hierdie goed kom van U, alles behoort aan U.

17. My God, ek weet dat U ’n mens se hart toets en dat U wil hê ’n mens moet eerlik wees. Ek het self besluit om al hierdie goed vir U te gee, en ek het nou gesien dat u volk wat hier is, dieselfde gedoen het. Ek is bly daaroor.

18. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, U moet u volk help om altyd so te dink, hulle moet net aan U dink.

19. En help my seun Salomo sodat hy met sy hele hart gehoorsaam sal wees aan u gebooie, aan alles wat U gesê het. Help hom sodat hy dit alles sal doen en sodat hy die paleis vir U sal bou, ek het alles daarvoor gereedgemaak.”

20. Daarna het Dawid vir die hele volksvergadering gesê: “Julle moet nou julle God die Here prys.”Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle voorvaders, geprys. Hulle het voor die Here en voor die koning gekniel en laag gebuig.

21. Die volgende dag het hulle vir die Here offers gebring. Hulle het brand-offers vir die Here gebring. Hulle het 1 000 bulle, 1 000 skaap-ramme en 1 000 lammers saam met die drank-offers gebring. Al die Israeliete het ook nog baie offers gebring.

22. Hulle was daardie dag baie bly en hulle het daar voor die Here geëet en gedrink. Hulle het die tweede maal vir Salomo seun van Dawid koning gemaak en hulle het hom gesalf om die koning te wees wat aan die Here behoort. Hulle het ook vir Sadok gesalf om die priester te wees.

23. Salomo het op die troon van die Here gaan sit om koning te wees ná sy pa Dawid. Dit het goed gegaan met Salomo, en al die Israeliete het gedoen wat hy sê.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29