Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 18:6-17 Bybel vir Almal (ABA)

6. Dawid het manne by die Arameërs van Damaskus laat bly om wag te staan. Die Arameërs moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom. Die Here het vir Dawid gehelp oral waar hy gegaan het.

7. Die amptenare van Hadad-Eser het goue skilde gedra. Dawid het die skilde gevat en hy het dit na Jerusalem gebring.

8. Dawid het baie brons gebring uit Tibgat en Kun. Dit was twee stede van Hadad-Eser. Salomo het daardie brons gebruik en hy het die waterbak, die pilare en die brons gereedskap laat maak.

9. Koning Toü van Hamat het gehoor dat Dawid vir Hadad-Eser koning van Soba oorwin het.

10. Daarom het Toü sy seun Hadoram gestuur om koning Dawid te groet en om hom geluk te wens omdat hy teen Hadad-Eser oorlog gemaak het en hom oorwin het. Daar was voorheen baie maal oorlog tussen Toü en Hadad-Eser. Hadoram moes ook vir Dawid presente van goud, silwer en brons bring.

11. Koning Dawid het hierdie presente ook aan die Here gewy. Dawid het voorheen ook die silwer en die goud gewy wat hy van die ander volke gevat het en na sy land gebring het. Hy het dit gevat van die Edomiete, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete.

12. Abisai seun van Seruja het 18 000 Edomiete in die Sout-vallei oorwin.

13. Hy het manne by die Edomiete laat bly om wag te staan, en al die Edomiete moes vir Dawid werk. Die Here het vir Dawid gehelp oral waar hy gegaan het.

14. Dawid was koning oor al die Israeliete. Hy het reg en goed gedoen aan al sy mense.

15. Joab seun van Seruja was die hoof van die leër, Josafat seun van Agilud was die hoof van al die amptenare,

16. Sadok seun van Agitub en Abimelek seun van Abjatar was die priesters en Sausa was die sekretaris.

17. Benaja seun van Jojada was die hoof van die soldate wat die koning moes oppas. Die ouer seuns van Dawid het die koning gehelp.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 18