Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 15:3-16 Bybel vir Almal (ABA)

3. Dawid het al die Israeliete na Jerusalem laat kom om die kis van die Here te bring na die plek wat hy daarvoor gereedgemaak het.

4. Dawid het toe die nageslag van Aäron en die Leviete laat bymekaarkom.

5. Van die Kehat-familie was daar 120 mense, en hulle leier was Uriël.

6. Van die Merari-familie was daar 200, en hulle leier was Asaja.

7. Van die Gersom-familie was daar 130, en hulle leier was Joël.

8. Van die Elisafan-familie was daar 200, en hulle leier was Semaja.

9. Van die Hebron-familie was daar 80, en hulle leier was Eliël.

10. Van die Ussiël-familie was daar 112, en hulle leier was Amminadab.

11. Dawid het die priesters Sadok en Abjatar geroep en ook vir Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab, hulle was Leviete.

12. Hy het vir hulle gesê: “Julle is die hoofde van die Leviete-families. Julle moet julleself en julle families wy en julle moet die kis van die Here, die God van Israel, na die plek bring wat ek daarvoor gereedgemaak het.

13. Julle het nie die vorige maal die kis gedra nie, en daarom het ons God die Here ons gestraf, want ons moes vir Hom gevra het hoe ons dit moet doen, maar ons het dit nie gevra nie.”

14. Die priesters en die Leviete het hulleself gewy om die kis van die Here, die God van Israel, te gaan haal.

15. Die Leviete het die kis van God op dra-houte op hulle skouers gedra soos Moses gesê het. Die Here het vir Moses gesê hulle moet die kis so dra.

16. Dawid het vir die leiers van die Leviete gesê hulle moet Leviete kies en aanstel om te sing en om musiek-instrumente te speel: harpe en liere en simbale. Hulle moes wys dat hulle bly is en hulle moes hard skree.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 15