Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 15:14-29 Bybel vir Almal (ABA)

14. Die priesters en die Leviete het hulleself gewy om die kis van die Here, die God van Israel, te gaan haal.

15. Die Leviete het die kis van God op dra-houte op hulle skouers gedra soos Moses gesê het. Die Here het vir Moses gesê hulle moet die kis so dra.

16. Dawid het vir die leiers van die Leviete gesê hulle moet Leviete kies en aanstel om te sing en om musiek-instrumente te speel: harpe en liere en simbale. Hulle moes wys dat hulle bly is en hulle moes hard skree.

17. Die Leviete het toe hierdie manne laat gereedstaan, hulle was almal Leviete: Heman seun van Joël, Asaf seun van Berekja, en Etan seun van Kusaja van die Merari-familie.

18. Saam met hulle was daar Leviete wat minder belangrik was: Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, en die poortwagte Obed-Edom en Jeïel.

19. Die mense wat moes sing, was Heman, Asaf en Etan, hulle moes die brons simbale slaan.

20. Sagaria, Asiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja moes die harpe speel wat soos ’n vrou se stem is.

21. Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja moes die liere speel wat soos ’n man se stem is. Hulle moes dit speel wanneer die mense sing.

22. Kenanja was die hoof van die Leviete wat die goed moes dra. Kenanja het geweet hoe om dit te doen, en hy het vir die ander Leviete geleer hoe om dit te doen.

23. Berekja en Elkana was poortwagte by die kis.

24. Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser het die trompette geblaas voor die kis van God. Obed-Edom en Jegija was ook poortwagte by die kis.

25. Dawid en die leiers van Israel en die belangrike offisiere wat saamgegaan het om die verbondskis van die Here uit die huis van Obed-Edom te bring, was baie bly.

26. Hulle het sewe bulle en sewe skaap-ramme ge-offer omdat God die Leviete gehelp het wat die verbondskis dra.

27. Dawid het ’n bo-kleed van fyn linne aangehad. Die Leviete wat die kis gedra het en die mense wat moes sing, en Kenanja, hulle leier, het ook elkeen ’n bo-kleed van fyn linne gedra. Dawid het ook nog ’n linne-skouer-kleed gedra.

28. Al die Israeliete het die verbondskis gebring. Hulle het geskree en hulle het ramshorings en trompette geblaas, hulle het simbale geslaan, en harpe en liere gespeel.

29. Toe die verbondskis by die Dawidstad kom, het Mikal dogter van Saul by die venster uitgekyk en sy het gesien hoe koning Dawid spring en dans. Toe sy dit sien, wou sy hom nie meer respekteer nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 15