Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:32-41 Bybel vir Almal (ABA)

32. En toe die offisiere van die oorlogkarre vir Josafat sien, het hulle gedink dit is die koning van Israel. Hulle het nader gekom om hom te skiet. Josafat het geskree en gevra sy mense moet help,

33. en toe die offisiere sien dit is nie Agab, die koning van Israel, nie, het hulle opgehou om vir Josafat te jaag.

34. Een van die Arameërs het ’n pyl geskiet. Hy het nie geweet waarnatoe die pyl gaan nie. Hy het die koning van Israel raakgeskiet. Die pyl het ingegaan onder die plate van sy harnas. Die koning het vir die man wat sy oorlogkar gedryf het, gesê: “Draai om en neem my uit die oorlog, want iemand het my raakgeskiet.”

35. Maar almal het daardie dag so hard geveg dat die koning op sy oorlogkar moes bly staan teen die Arameërs. Toe dit aand word, het hy gesterf. Die bloed uit die wond het afgeloop op die vloer van die oorlogkar.

36. Toe die son ondergaan, het die offisiere begin skree dat die oorlog moet ophou. Hulle het gesê: “Elkeen moet na sy stad gaan, elkeen na sy land.”

37. Die koning was dood toe hulle in Samaria aankom. Sy mense het hom in Samaria begrawe.

38. Toe hulle die oorlogkar afspoel by die dam van Samaria, het die honde die koning se bloed opgelek, soos die Here gesê het. Die prostitute was besig om hulle daar te was.

39. Al die ander dinge wat Agab gedoen het, hoe hy Bet-San en die ander stede gebou het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

40. Nadat Agab gesterf het, het sy seun Ahasia koning geword ná hom.

41. Josafat seun van Asa het koning van Juda geword in die vierde jaar nadat Agab koning van Israel geword het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22