Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Toe Agab by die huis kom, was hy moedeloos en kwaad omdat Nabot van Jisreël vir hom gesê het hy sal nie vir hom die grond gee wat hy van sy voorvaders gekry het nie. Agab het op sy bed gaan lê en hy het sy gesig na die muur gedraai. Hy wou nie eet nie.

5. Sy vrou Isebel kom toe by hom en vra vir hom: “Hoekom is jy moedeloos en hoekom eet jy nie?”

6. Hy sê toe vir haar: “Ek het met Nabot van Jisreël gaan praat en vir hom gevra: Gee vir my jou wingerd, ek sal jou betaal, of as jy wil, sal ek vir jou ’n ander wingerd gee. Maar hy het gesê nee, hy sal nie sy wingerd vir my gee nie.”

7. Agab se vrou Isebel sê toe vir hom: “Jy is die koning van Israel. Staan op en eet en wees vrolik. Ek sal ’n plan maak sodat jy Nabot van Jisreël se wingerd kan kry.”

8. Isebel skryf toe briewe en sy sit Agab se naam en sy seël daarop. Toe stuur sy die briewe na die leiers en die amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het.

9. In die briewe het sy geskryf: “Julle moet ’n vasdag hou en julle moet vir Nabot voor die mense laat sit.

10. Julle moet twee manne wat kan jok voor Nabot laat sit. Hulle moet sê Nabot het God en die koning vervloek, en hulle moet sê hulle is getuies dat hy dit gedoen het. Dan moet julle vir Nabot buitetoe neem en julle moet hom doodgooi met klippe.”

11. Die leiers en die amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het, het gedoen wat Isebel vir hulle geskryf het in die briewe wat sy vir hulle gestuur het.

12. Hulle het ’n vasdag gehou en hulle het vir Nabot voor die mense laat sit.

13. Hulle het twee manne gebring wat kan jok en hulle het die manne voor Nabot laat sit. Die twee manne het toe gepraat teen Nabot en hulle het gesê Nabot het God en die koning vervloek. Toe het hulle vir Nabot uit die stad geneem en hulle het hom doodgegooi met klippe.

14. Hulle het vir Isebel laat weet dat hulle vir Nabot doodgegooi het met klippe.

15. Toe Isebel dit hoor, het sy vir Agab gesê: “Nabot lewe nie meer nie, hy is dood. Nou kan jy Nabot se wingerd gaan vat wat hy nie aan jou wou verkoop nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21