Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daar het ’n tyd verbygegaan nadat hierdie dinge gebeur het. Nabot van Jisreël het ’n wingerd gehad voor die paleis van koning Agab van Samaria.

2. Agab het met Nabot gepraat en gesê: “Gee vir my jou wingerd. Ek sal vir jou ’n beter wingerd gee, of as jy wil, dan sal ek vir jou geld gee daarvoor. Ek wil daar ’n kruie-tuin maak, want dit is naby, dit is voor my paleis.”

3. Maar Nabot het vir Agab gesê: “Die Here moet my keer as ek dit wil doen. Ek sal nooit vir jou die grond gee wat ek van my voorvaders gekry het nie.”

4. Toe Agab by die huis kom, was hy moedeloos en kwaad omdat Nabot van Jisreël vir hom gesê het hy sal nie vir hom die grond gee wat hy van sy voorvaders gekry het nie. Agab het op sy bed gaan lê en hy het sy gesig na die muur gedraai. Hy wou nie eet nie.

5. Sy vrou Isebel kom toe by hom en vra vir hom: “Hoekom is jy moedeloos en hoekom eet jy nie?”

6. Hy sê toe vir haar: “Ek het met Nabot van Jisreël gaan praat en vir hom gevra: Gee vir my jou wingerd, ek sal jou betaal, of as jy wil, sal ek vir jou ’n ander wingerd gee. Maar hy het gesê nee, hy sal nie sy wingerd vir my gee nie.”

7. Agab se vrou Isebel sê toe vir hom: “Jy is die koning van Israel. Staan op en eet en wees vrolik. Ek sal ’n plan maak sodat jy Nabot van Jisreël se wingerd kan kry.”

8. Isebel skryf toe briewe en sy sit Agab se naam en sy seël daarop. Toe stuur sy die briewe na die leiers en die amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het.

9. In die briewe het sy geskryf: “Julle moet ’n vasdag hou en julle moet vir Nabot voor die mense laat sit.

10. Julle moet twee manne wat kan jok voor Nabot laat sit. Hulle moet sê Nabot het God en die koning vervloek, en hulle moet sê hulle is getuies dat hy dit gedoen het. Dan moet julle vir Nabot buitetoe neem en julle moet hom doodgooi met klippe.”

11. Die leiers en die amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het, het gedoen wat Isebel vir hulle geskryf het in die briewe wat sy vir hulle gestuur het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21