Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Ben-Hadad van Aram het al sy soldate laat bymekaarkom. Daar was 32 konings saam met hom, en hy het oorlogkarre en perde gehad. Hy het gegaan en hy het sy tente rondom die stad Samaria opgeslaan.

2. Toe stuur hy boodskappers na die stad, na koning Agab van Israel toe

3. om vir hom te sê: “Ben-Hadad sê: Jou silwer en jou goud is myne, en jou vroue en jou beste seuns is ook myne.”

4. Die koning van Israel het geantwoord en gesê: “Goed, Meneer die koning, ek en alles wat ek het, is joune.”

5. Maar die boodskappers het later weer na Agab teruggekom en gesê: “Ben-Hadad sê: Ek het vir jou ’n boodskap gestuur en gesê jy moet jou silwer en jou goud en jou vroue en jou seuns vir my gee,

6. maar ek sal môre hierdie selfde tyd my offisiere na jou toe stuur, en hulle sal oral in jou paleis en in die huise van jou amptenare soek. Hulle sal alles vat en saambring, alles wat vir jou kosbaar is.”

7. Toe roep die koning van Israel al die leiers van die land en hy sê vir hulle: “Julle moet hoor, julle moet dit weet. Hierdie man wil vir my probleme gee. Hy het vir my gevra dat ek my vroue en my seuns, my silwer en my goud vir hom moet gee, en ek het nie geweier nie.”

8. Al die leiers en al die mense het vir die koning gesê: “Jy moenie na hom luister nie, jy moenie doen wat hy vra nie.”

9. Toe sê die koning vir die boodskappers van Ben-Hadad: “Sê vir meneer die koning: Ek sal alles doen wat jy die eerste maal vir my gevra het, maar wat jy nou vra, kan ek nie doen nie.”Die boodskappers het vir Ben-Hadad gaan sê wat Agab sê.

10. Ben-Hadad stuur toe weer vir Agab ’n boodskap. Hy het gesê: “Ek bid dat die gode my sal help. Ek sal Samaria so verwoes dat daar net stof sal oorbly, en die stof sal nie genoeg wees vir al die manne saam met my om dit met hulle hande weg te dra nie.”

11. Die koning van Israel het geantwoord: “Iemand wat ’n oorlog wil begin, moenie spog nie, hy moet wag totdat die oorlog verby is.”

12. Ben-Hadad en die ander konings was besig om te drink in die tente. Toe hy die boodskap van Agab kry, het hy vir sy offisiere gesê: “Julle moet gereedmaak.”Hulle het toe gereedgemaak om die stad aan te val.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20