Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:20-31 Bybel vir Almal (ABA)

20. Jerobeam was 22 jaar lank koning. Hy het gesterf, en sy seun Nadab het koning geword ná hom.

21. Rehabeam seun van Salomo was koning in die land Juda. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 17 jaar lank koning in Jerusalem. Die Here het Jerusalem gekies van al die stede van die stamme van Israel. Die Here het Jerusalem gekies om aan Hom te behoort. Rehabeam se ma was Naäma, sy was ’n Ammonitiese vrou.

22. Die mense van Juda het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het Hom baie kwaad gemaak omdat hulle daardie sondes gedoen het. Hulle het Hom meer kwaad gemaak as hulle voorvaders.

23. Hulle het ook vir hulle offer-plekke gebou en klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

24. Daar was ook tempel-prostitute in die land. Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen, dinge wat die Here haat. Hulle het dieselfde dinge gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die Israeliete.

25. In die vyfde jaar nadat Rehabeam koning geword het, het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval.

26. Hy het al die kosbare goed in die tempel en in die paleis gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.

27. Koning Rehabeam het skilde van brons laat maak in die goue skilde se plek, en hy het die skilde vir die hoofde van die wagte gegee wat voor die paleis waggestaan het.

28. Elke maal wanneer die koning na die tempel gegaan het, dan het die wagte die skilde gedra. Daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer.

29. Al die ander dinge wat Rehabeam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

30. Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.

31. Rehabeam het gesterf en hulle het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, sy was ’n Ammonitiese vrou. Rehabeam se seun Abia het koning geword ná hom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14