Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 15:16-32 Bybel vir Almal (ABA)

16. en Hy het my gekies om vir Christus Jesus te werk. Hy het my na die heidene toe gestuur, en my werk is om vir hulle die goeie boodskap van God te bring. Wanneer die heidene in Christus glo, dan word hulle soos ’n offer wat ek vir God gee, en God sal die offer aanvaar. Die Heilige Gees het hulle aan God gewy.

17. Ek behoort aan Christus Jesus en daarom is ek trots op alles wat ek vir God doen.

18. Ek wil nie spog nie, ek sal net vertel van die dinge wat ek gedoen het omdat Christus vir my die krag gegee het om dit te doen. Hy het my gebruik sodat die heidene gehoorsaam kan word aan Hom. Ek het gedoen en gesê wat Christus wou hê.

19. Die Heilige Gees het vir my krag gegee om tekens en wonderwerke te doen. Ja, ek het klaar die goeie boodskap oor Christus oral vir die mense gebring, van Jerusalem tot by die provinsie Illirikum.

20. Ek wil graag die goeie boodskap bring waar mense nog nie van Christus gehoor het nie. Ek wil nie gaan preek waar ander mense klaar gepreek het nie.

21. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Niemand het vir hullevan Hom vertel nie,maar hulle sal Hom sien,hulle het nie van Homgehoor nie, maar hulle salvan Hom weet.

22. Ek het op baie plekke die boodskap van Christus gebring, en daarom kon ek nie na julle toe kom nie.

23. Maar nou het ek hier op al die plekke die boodskap oor Christus gebring. Ek wou voorheen na julle toe gegaan het

24. en ek wil nou na julle toe kom wanneer ek na die land Spanje gaan. Ja, ek hoop ek sal julle kan besoek wanneer ek na Spanje gaan. Dan wil ek eers ’n tyd lank by julle bly sodat ons by mekaar kan wees. Ek hoop julle sal dan vir my kan help sodat ek verder kan gaan.

25. Maar ek gaan nou eers na Jerusalem. Ek gaan om die gelowiges in Jerusalem te dien,

26. want die gelowiges in die provinsies Masedonië en Agaje het besluit om van hulle geld te stuur vir die arm gelowiges in Jerusalem.

27. Die gelowiges in Masedonië en Agaje is heidene en die gelowiges in Jerusalem is Jode. Nou stuur die heidene vir die Jode geld, en dit is reg, want die Heilige Gees het vir die Jode baie goeie dinge gegee, en die heidene het ook daarvan gekry. Daarom is dit reg dat die heidene vir die Jode van hulle geld stuur.

28. Wanneer ek hierdie werk klaar gedoen het, en wanneer ek die geld veilig vir die gelowiges in Jerusalem gegee het, dan kom ek na julle toe en dan gaan ek verder na Spanje.

29. Ek weet dat ek al die seën van Christus vir julle sal bring wanneer ek na julle toe kom.

30. Vriende, ons behoort almal aan ons Here Jesus Christus, en die Heilige Gees help ons om lief te wees vir mekaar. Daarom vra ek mooi vir julle, julle moet baie ernstig saam met my bid dat God my sal help.

31. Daar is mense in die provinsie Judea wat nie in Christus glo nie, en hulle wil slegte dinge doen aan my. Daarom moet julle bid dat God my sal beskerm teen hulle. Julle moet ook bid dat God sal help dat die gelowiges in Judea tevrede sal wees met die werk wat ek daar gaan doen.

32. As God dit wil hê, sal ek dan na julle toe kom, en ek sal bly wees. Dit sal vir my baie lekker wees om by julle te wees en daar by julle te rus.

Lees volledige hoofstuk Romeine 15