Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 21:15-26 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die engel wat met my gepraat het, het ’n goue meet-stok gehad om die stad en die poorte en die muur te meet.

16. Die stad was vierkantig: dit was so lank soos dit breed was. Die engel het die stad gemeet: dit was 12 000 stadioi lank en 12 000 stadioi breed en 12 000 stadioi hoog.

17. Hy het die muur ook gemeet. Dit was 144 el hoog. Die engel het gemeet hoeveel el dit was, soos mense altyd ’n el meet.

18. Die muur was van jaspis. Die stad was van die beste goud, dit het geblink soos die mooiste glas.

19. Op die fondamente van die muur was daar baie mooi edelstene. Op die eerste fondament was jaspis. Op die tweede fondament was saffier. Op die derde fondament was agaat. Op die vierde fondament was smarag.

20. Op die vyfde fondament was oniks. Op die sesde fondament was karneool. Op die sewende fondament was chrisoliet. Op die agste fondament was beril. Op die negende fondament was topaas. Op die tiende fondament was chrisopraas. Op die elfde fondament was hiasint. Op die twaalfde fondament was ametis.

21. Die twaalf poorte was twaalf pêrels. Ja, elke poort was gemaak van een pêrel. Die straat van die stad was van die beste goud, dit het gelyk soos glas, ’n mens kon daardeur sien.

22. Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God wat alles kan doen, en die Lam, was die stad se tempel.

23. Daar was nie ’n son of ’n maan om vir die stad lig te gee nie. Dit was nie nodig nie, want die lig wat om God die Koning is, het daar lig gegee. En die Lam was die lamp vir die stad.

24. Die volke sal lewe in die stad se lig, en die konings van die aarde sal na die stad kom, en dit sal wys hoe belangrik die stad is.

25. Die stad se poorte sal nooit toe wees in die dag nie. En daar is nooit nag nie.

26. Die konings van die aarde sal presente van die volke na die stad bring. Hulle sal die stad prys en sê hoe belangrik dit is.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 21