Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 14:3-16 Bybel vir Almal (ABA)

3. Hulle het ’n nuwe lied gesing voor God se troon en voor die vier diere en voor die ouderlinge. Net die 144 000 mense kon daardie lied leer, niemand anders nie, want God het hulle losgekoop.

4. Hulle het nie onsedelik gelewe nie, hulle was maagde. Hulle het oral saam met die Lam gegaan. God het hulle vrygekoop. Ja, hulle was die eerste mense wat aan Hom en aan die Lam behoort het, God het hulle losgekoop om aan Hom te behoort.

5. Hulle het nooit leuens vertel nie, hulle het heeltemal reg gelewe.

6. Ek het ’n ander engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het ’n boodskap gehad, ’n boodskap wat altyd goed is. Hy moes die boodskap bring vir die mense van al die lande, stamme, tale en volke.

7. Die engel het hard geskree en gesê: “Julle moet vir God respekteer, want Hy gaan nou die mense oordeel! Julle moet Hom aanbid! Hy het die hemel en die aarde en die see en die fonteine gemaak.”

8. ’n Tweede engel het gekom. Hy het geskree en gesê: “Babilon, die groot stad, is afgebreek en verwoes! Ja, dit is plat! Babilon was soos ’n vrou wat onsedelik lewe, dit was vir haar baie lekker om so te lewe. En sy het vir die mense van die ander volke geleer om onsedelik te lewe.”

9. ’n Derde engel het gekom. Hy het hard geskree en gesê: “God sal die mense straf wat die dier en sy beeld aanbid, die mense wat die dier se merk op hulle voorkoppe of op hulle hande het!

10. God is baie kwaad vir hulle. Hy sal hulle straf en Hy sal vir hulle die beker van swaarkry laat drink. Hy sal hulle seermaak met vuur en swael. God se engele en die Lam sal dit sien gebeur.

11. Die vuur wat hulle seermaak, hou aan om altyd te brand, en hulle kan nooit rus nie, nie in die dag nie en ook nie in die nag nie. So sal dit gaan met almal wat die dier en sy beeld aanbid en wat die merk van sy naam gekry het.”

12. Die mense wat aan God behoort, moet geduldig wees wanneer hulle swaarkry, hulle wat doen wat God se wette sê en wat aanhou om in Jesus te glo.

13. En ek het die stem van iemand in die hemel gehoor. Hy het gesê: “Jy moet skryf! Van nou af is almal wat aan die Here behoort en wat sterf, gelukkige mense!”Die Heilige Gees het gesê: “Ja, hulle sal nie meer hard werk nie. Hulle sal rus, want hulle het baie goeie dinge gedoen.”

14. Ek het gekyk en gesien daar was ’n wit wolk, en op die wolk het Iemand gesit wat lyk soos die Seun van die mens! Hy het ’n goue kroon op sy kop gehad en in sy hand was ’n skerp sekel.

15. Ek het ’n ander engel gesien. Hy het uit die tempel in die hemel gekom. Hy het hard geskree vir die Persoon wat op die wolk sit en gesê: “Dit is nou die tyd om die mense te straf! U moet hulle straf soos wanneer ’n mens koring afsny. U moet u sekel gebruik en begin afsny! Die oes op die aarde is ryp!”

16. En die Persoon wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde geswaai en Hy het afgesny.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 14