Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:22-36 Bybel vir Almal (ABA)

22. Jesus het omgedraai en haar gesien. Toe sê Hy vir haar: “Mevrou, moenie bekommerd wees nie. Jy het nou gesond geword, want jy het geglo.”Die vrou het toe dadelik gesond geword.

23. Jesus het by die huis van die Joodse leier gekom. Hy sien toe die mense wat altyd op fluite speel by begrafnisse, en baie mense wat hard huil en treur.

24. Hy sê toe vir hulle: “Gaan weg. Die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”Maar die mense het gelag omdat Jesus gesê het sy slaap.

25. Jesus het eers al die mense uitgejaag, en toe het Hy in die dogtertjie se kamer ingegaan. Hy het haar hand geneem, en sy het opgestaan.

26. Die mense het vir almal in daardie deel van die land vertel wat gebeur het.

27. Jesus het verder gegaan. Twee blindes het agter Hom geloop. Hulle het aangehou om hard te sê: “Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en help ons!”

28. Toe Jesus by die huis kom, het die blindes nader gekom na Hom toe. Hy het vir hulle gevra: “Glo julle dat Ek julle gesond kan maak?”Hulle het vir Jesus gesê: “Ja, Here.”

29. Toe raak Jesus aan hulle oë en Hy sê: “Julle glo dat Ek julle gesond kan maak. Daarom sal dit nou gebeur.”

30. Hulle oë het gesond geword, en hulle kon sien. Jesus het ernstig met hulle gepraat en gesê: “Julle moenie vir iemand hiervan vertel nie.”

31. Maar toe hulle weggaan van Jesus, het hulle vir almal in daardie deel van die land vertel wat gebeur het.

32. Die twee mans het weggegaan, en toe bring die mense iemand na Jesus toe. Die man kon nie praat nie, hy was stom. Daar was ’n duiwel in hom.

33. Jesus het die duiwel uitgejaag, en toe kon die man praat. Al die mense was baie verbaas en hulle het gesê: “So iets het nog nooit hier by ons, die volk Israel, gebeur nie.”

34. Maar die Fariseërs het gesê: “Dit is die leier van die duiwels wat vir Jesus help om die duiwels uit te jaag.”

35. Jesus het al die stede en dorpe besoek. Hy het aangehou om vir die mense in hulle sinagoges te leer. Hy het vir hulle vertel van die goeie boodskap dat God Koning is oor almal. Hy het ook al die siek mense gesond gemaak.

36. Baie mense het na Jesus toe gekom, en toe Hy al die mense sien, het Hy baie jammer gevoel vir hulle. Hulle het gelyk soos mense wat swaarkry, maar daar was niemand wat hulle kon help nie. Hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 9