Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5:23-33 Bybel vir Almal (ABA)

23. Wanneer jy jou offer na die altaar bring, en jy onthou daar dat jou broer kwaad is vir jou,

24. moenie dan offer nie. Los jou offer daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer. Kom dan terug en bring jou offer vir God.

25. Wanneer iemand jou hof toe wil vat, dan moet jy met hom vrede maak voordat julle by die hof kom. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou na die hof bring, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit.

26. Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”

27. “Julle weet die wette sê: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’

28. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n ander vrou kyk en lus kry om by haar te slaap, het klaar in sy hart sonde gedoen en egbreuk gepleeg.

29. As jou regter-oog jou laat sonde doen, ruk dit uit en gooi dit weg, want dan verloor jy net ’n oog en jou hele liggaam gaan nie hel toe nie.

30. As jou regter-hand jou laat sonde doen, kap dit af en gooi dit weg, want dan verloor jy net ’n hand en dan sal jou hele liggaam nie hel toe gaan nie.”

31. “Julle weet die wette sê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet vir haar ’n skeibrief gee.’

32. Maar Ek sê vir julle: Wanneer iemand van sy vrou skei, en die vrou trou weer, dan pleeg sy egbreuk, en dan is dit die man se skuld. En elke man wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk. ’n Man mag net van sy vrou skei as sy seks gehad het met ’n ander man.”

33. “Julle weet ook die wette sê: ‘Jy moenie iets belowe wat jy nie wil doen nie,’ en ‘as jy vir die Here iets belowe het, dan moet jy dit doen.’

Lees volledige hoofstuk Matteus 5