Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:4-21 Bybel vir Almal (ABA)

4. Hy het gesê: “Ek het sonde gedoen, want ek het ’n onskuldige man verraai, en nou moet Hy sterf.”Maar die priesterleiers en die familieleiers het vir hom gesê: “Dit is nie ons probleem nie! Dit is jou probleem!”

5. Judas het toe die geld in die tempel gegooi en hy het weggegaan en homself opgehang.

6. Die priesterleiers het die geld geneem en gesê: “Ons kan dit nie by die tempel se geld sit nie, want dit is bloedgeld.”

7. Hulle het saam planne gemaak, en toe het hulle die geld geneem en hulle het die grond van die pottebakker gekoop sodat hulle vreemdelinge daar kon begrawe.

8. Daarom noem die mense daardie stuk grond vandag nog “Bloedgrond.”

9. So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem, dit is hoeveel die Israeliete besluit het ek moet kry.

10. En hulle het dit betaal vir die grond van die pottebakker, want dit was wat die Here vir my gesê het.”

11. Jesus het voor die goewerneur Pilatus gestaan. Die goewerneur het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”Jesus het vir hom gesê: “Jy sê self Ek is.”

12. Die priesterleiers en die familieleiers het vir Jesus beskuldig, maar Hy het niks geantwoord nie.

13. Pilatus vra toe weer vir Jesus: “Hoor jy al hierdie dinge wat hulle teen jou sê?”

14. Maar Jesus het nie een van die goewerneur se vrae geantwoord nie. En die goewerneur was baie verbaas.

15. Elke jaar wanneer die Jode Paasfees vier, het die goewerneur een gevangene uit die tronk laat uitkom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees.

16. In daardie tyd was daar ’n baie slegte gevangene in die tronk. Sy naam was Jesus Barabbas.

17. Daar was ’n groot klomp mense daar bymekaar. Pilatus het vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom: Jesus Barabbas of Jesus vir wie die mense Christus noem?”

18. Die goewerneur het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was.

19. Die goewerneur het op die regterstoel gaan sit. Toe het sy vrou vir hom ’n boodskap gestuur en gesê: “Jy moet niks aan daardie onskuldige man doen nie, want ek het in die nag baie swaar gekry, ek het van hom gedroom.”

20. Die priesterleiers en die familieleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat uitkom, en vir Jesus moet laat doodmaak.

21. Die goewerneur vra toe weer vir die mense: “Wie van die twee mense wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom?”En hulle het geantwoord: “Barabbas!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 27