Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 22:13-27 Bybel vir Almal (ABA)

13. Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.’

14. Want God nooi baie mense, maar Hy kies net ’n paar mense.”

15. Die Fariseërs het toe gaan planne maak. Hulle wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, hulle wou hê Hy moet probleme kry.

16. Hulle stuur toe hulle leerlinge saam met Herodiane na Jesus toe om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en alles wat jy vir hulle leer, is waar. Jy is nie bang vir wat die mense van jou sê nie. Jy kyk nie wie mense is nie, jy doen dieselfde aan almal.

17. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?”

18. Maar Jesus het geweet hulle is slegte mense en Hy het vir hulle gesê: “Julle skynheilige mense, hoekom wil julle hê Ek moet iets sê wat vir My probleme kan gee?

19. Bring vir My die geldstuk waarmee mense belasting betaal.”Hulle bring toe vir Jesus ’n silwer geldstuk,

20. en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?”

21. Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.”Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet aan die keiser betaal wat aan die keiser behoort, en julle moet ook aan God betaal wat aan God behoort.”

22. Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en hulle het weggegaan van Jesus.

23. Daardie dag het ’n paar Sadduseërs na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat dood is, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê:

24. “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Moses het gesê: ‘Wanneer ’n man sterf en sy vrou lewe nog, en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se nageslag wees.’

25. “Daar was sewe broers hier by ons. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf, maar hy het nie kinders gehad nie. Daarom het die tweede broer met die oudste broer se weduwee getrou.

26. Dieselfde het gebeur met die tweede broer en met die derde broer en met al die ander broers tot die sewende broer.

27. Later het die vrou ook gesterf.

Lees volledige hoofstuk Matteus 22