Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 21:20-33 Bybel vir Almal (ABA)

20. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en hulle het gevra: “Hoekom het die vyeboom so skielik doodgegaan?”

21. Jesus het geantwoord: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As julle glo en nie twyfel nie, dan sal julle kan doen wat Ek met die vyeboom gedoen het. Julle sal meer kan doen. As julle vir hierdie berg sê: ‘Tel jouself op en gooi jouself in die see,’ dan sal dit gebeur.

22. En as julle glo wanneer julle bid en iets vra, dan sal God dit alles vir julle gee.”

23. Jesus het weer na die tempel-gronde gegaan. Hy was besig om vir die mense te leer, en toe het die priesterleiers en die familieleiers van die volk na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gevra: “Hoekom dink jy dat jy hierdie dinge mag doen? Wie het gesê jy mag dit doen?”

24. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal vir julle ook een vraag vra. As julle vir My antwoord, dan sal Ek vir julle sê wie gesê het Ek mag hierdie dinge doen.

25. Johannes die Doper het mense gedoop. Wie het hom gestuur om dit te doen? Was dit God, of was dit die mense?”Die priesterleiers en die familieleiers het daaroor met mekaar gepraat en gesê: “As ons sê: ‘God het hom gestuur,’ dan sal Jesus vir ons vra: ‘Hoekom het julle nie geglo wat Johannes gesê het nie?’

26. Maar ons is bang die mense sal vir ons kwaad wees as ons sê: ‘Dit was mense wat vir Johannes gestuur het om te doop,’ want almal dink Johannes is ’n profeet.”

27. Daarom het die priesterleiers en die familieleiers vir Jesus gesê: “Ons weet nie.”Toe sê Jesus vir hulle: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.”

28. Jesus het gesê: “Wat dink julle, wie het reg gedoen? ’n Man het twee kinders gehad. Hy het na die eerste seun toe gegaan en vir hom gesê: ‘Kind, gaan werk vandag in my wingerd.’

29. Die seun het geantwoord: ‘Ek wil nie gaan nie.’ Maar later was hy jammer en hy het gaan werk.

30. Die man het daarna na die tweede seun toe gegaan en dieselfde vir hom gesê. Die seun het geantwoord: ‘Pa, ek sal gaan.’ Maar hy het nie gegaan nie.”

31. Jesus vra toe vir die priesterleiers en die familieleiers: “Watter seun het gedoen wat sy pa wou hê?”Hulle het gesê: “Die eerste seun.”Toe sê Jesus vir hulle: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle ingaan daar waar God Koning is.

32. Want Johannes die Doper het gekom om vir julle te wys hoe God wil hê julle moet lewe, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en die prostitute het hom geglo. En toe julle dit sien, was julle nie later jammer nie, julle het nie vir Johannes geglo nie.”

33. Jesus het gesê: “Luister na nog ’n gelykenis. Daar was ’n man wat ’n klomp wingerdstokke op sy grond geplant het. Hy het ’n muur rondom die wingerd gebou en ’n parskuip gereedgemaak. Hy het ook ’n hoë toring gebou waarop iemand kon staan om die wingerd op te pas. Daarna het hy die wingerd verhuur aan ander mense. Toe het hy weggegaan.

Lees volledige hoofstuk Matteus 21