Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15:30-39 Bybel vir Almal (ABA)

30. ’n Klomp mense het na Hom toe gekom. Hulle het mense saamgebring wat verlam was, of blind, of kreupel, of doof en stom, en hulle het ook baie ander siek mense gebring. Hulle het die siek mense voor Jesus se voete neergesit en Hy het hulle gesond gemaak.

31. Die mense was verbaas toe hulle sien dat die mense wat doof en stom was, kan praat, dat die kreupel mense gesond is en dat die blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geprys.

32. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur huis toe nie, want hulle sal flou word voordat hulle by die huis is.”

33. Die dissipels vra toe vir Jesus: “Waar sal ons so baie brood kry dat ons vir hierdie klomp mense genoeg kan gee om te eet? Ons is ver van ’n stad, hier woon niemand nie.”

34. Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?”En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode en ’n paar klein vissies.”

35. Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet.

36. Hy het die sewe brode en die visse geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee.

37. Almal het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies opgetel wat oorgebly het, dit was sewe groot mandjies vol.

38. Daar was 4 000 mans wat geëet het. Daar was ook nog vroue en kinders.

39. Daarna het Jesus al die mense huis toe gestuur. Toe het Jesus in ’n boot geklim en na plekke naby die stad Magadan gegaan.

Lees volledige hoofstuk Matteus 15