Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:50-58 Bybel vir Almal (ABA)

50. En die engele sal dan al die slegte mense in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hard op hulle tande byt van pyn.”

51. Jesus vra toe vir sy dissipels: “Verstaan julle al hierdie dinge?”Hulle sê vir Hom: “Ja.”

52. Toe sê Jesus vir hulle: “Elke skrifgeleerde wat ’n dissipel word van God, die Koning wat in die hemel is, is soos iemand wat ’n huis het en wat nuwe goed en ook ou goed uithaal uit sy stoorkamer wanneer hy dit nodig het.”

53. Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy weggegaan.

54. Hy het in Nasaret gekom, die stad waar Hy grootgeword het. Hy het vir die mense in hulle sinagoge geleer. Hulle was baie verbaas oor wat Hy vir hulle geleer het. Hulle vra toe: “Waar het hy hierdie wysheid gekry? Hoe kan hy hierdie wonderwerke doen?

55. Ons weet hy is die seun van die man wat houtwerk doen. Sy ma se naam is Maria, en sy broers is Jakobus, Josef, Simon en Judas.

56. Sy susters is ook almal by ons. Hoe kan Jesus dit alles doen?”

57. Die mense het glad nie gehou van wat Jesus gesê en gedoen het nie. Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na ’n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in die stad waar hy grootgeword het en die mense in sy eie huis respekteer hom nie.”

58. Jesus het nie baie wonderwerke daar gedoen nie, want die mense het nie in Hom geglo nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 13