Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:18-31 Bybel vir Almal (ABA)

18. Wanneer die onrein gees in die seun kom, dan gooi hy die seun op die grond. Dan kry die seun skuim om sy mond, hy byt op sy tande en sy liggaam word heeltemal styf. Ek het vir u dissipels gevra om die onrein gees uit te jaag, maar hulle kon nie.”

19. Jesus het vir hulle gesê: “Julle glo nie! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun na My toe.”

20. Hulle het die seun na Jesus toe gebring. Toe die onrein gees vir Jesus sien, het hy dadelik die seun op die grond laat val. Die seun het geruk en geskop en daar was skuim om sy mond.

21. Jesus het vir die seun se pa gevra: “Van wanneer kom die onrein gees in jou seun?”Die pa het gesê: “Vandat hy klein was.

22. Baie maal het die onrein gees hom in vuur en in die water laat val om hom dood te maak. As U kan, dan moet U asseblief jammer wees vir ons en ons help!”

23. Jesus het vir hom gevra: “Hoekom sê jy ‘As U kan?’ Iemand wat glo, kan enige iets doen.”

24. Die seun se pa het dadelik hard gesê: “Ek volg U nog nie, maar ek glo, help my asseblief.”

25. Toe Jesus sien dat ’n groot klomp mense na hulle toe hardloop, het Hy hard met die onrein gees gepraat en vir hom gesê: “Jy is ’n gees wat mense stom en doof maak. Ek sê vir jou: Gaan uit die seun uit! Jy moet nooit weer in hom inkom nie!”

26. Die gees het hard geskree en hy het die seun nog meer laat ruk en skop. Toe het hy uit die seun uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, en baie van die mense het gesê hy is dood.

27. Jesus het sy hand geneem en hom opgehelp, en die seun het opgestaan.

28. Jesus het huis toe gegaan, en toe sy dissipels alleen by Hom was, het hulle vir Hom gesê: “Ons kon nie die onrein gees uitjaag nie. Hoekom nie?”

29. Jesus het hulle geantwoord: “’n Mens kan hierdie soort onrein gees net uitjaag as jy tot God bid.”

30. Hulle het van daar weggegaan en deur Galilea gegaan. Jesus wou nie hê iemand moes weet waar hulle is nie,

31. want Hy was besig om vir sy dissipels te leer. Hy het gesê: “God sal My, die Seun van die mens, vir die mense gee sodat hulle My kan doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”

Lees volledige hoofstuk Markus 9