Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:16-31 Bybel vir Almal (ABA)

16. Toe koning Herodes van Jesus hoor, het hy gesê: “Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap, en nou lewe hy weer.”

17-18. Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang.

19. Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie,

20. want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is ’n goeie en ’n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister.

21. Eendag het Herodias gesien sy kan nou vir Johannes laat doodmaak. Koning Herodes het verjaar en hy het ’n groot fees gehou vir al sy belangrike amptenare en offisiere en die belangrike mense van die provinsie Galilea.

22. Herodias se dogter het ingekom om vir hulle te dans. Koning Herodes en al die mense wat daar was, het baie daarvan gehou. Die koning sê toe vir die meisie: “Jy mag vir my enige iets vra wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23. Hy het weer en weer vir haar belowe: “Ek sal vir jou enige iets gee wat jy vir my vra. As jy vir my die helfte van my land vra, dan sal ek dit ook vir jou gee.”

24. Die dogter het na haar ma toe gegaan en vir haar gevra: “Wat moet ek vra?”Herodias het geantwoord: “Jy moet sê jy wil die kop van Johannes die Doper hê.”

25. Die dogter het haastig na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Ek wil hê jy moet dadelik vir my die kop van Johannes die Doper in ’n skottel bring.”

26. Die koning het baie hartseer geword, maar al die mense wat saam geëet het, het gehoor wat hy belowe het, en hy wou nie sy belofte breek nie.

27. Die koning het dadelik ’n soldaat gestuur en vir hom gesê hy moet Johannes se kop bring. Die soldaat het na die tronk gegaan en hy het Johannes se kop afgekap.

28. Hy het Johannes die Doper se kop in ’n skottel gebring en hy het dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29. Toe Johannes se dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en hulle het sy lyk weggeneem en begrawe.

30. Die apostels het teruggekom na Jesus toe en hulle het vir Hom alles vertel wat hulle gedoen het en wat hulle vir die mense geleer het.

31. Mense het aanhoudend na Jesus toe gekom en hulle het nie tyd gehad om te eet nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Julle moet saam met My na ’n stil plek gaan sodat julle ’n bietjie kan rus.”

Lees volledige hoofstuk Markus 6