Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:9-23 Bybel vir Almal (ABA)

9. Jesus het vir sy dissipels gesê hulle moet vir Hom ’n bootjie kry. Daar was so baie mense dat Jesus bang was hulle druk teen Hom en maak Hom seer.

10. Jesus het baie mense gesond gemaak, en almal wat siek was, wou by Jesus kom en aan Hom raak.

11. Daar was ook mense wat onrein geeste in hulle gehad het. Elke maal wanneer hulle Jesus gesien het, het hulle voor Hom op die grond geval en geskree: “U is die Seun van God,”

12. maar Jesus het gesê hulle mag glad nie sê wie Hy is nie.

13. Jesus het na die berg gegaan en Hy het die mense wat Hy daar wou hê, na Hom toe geroep. Hulle het na Hom toe gekom.

14. Hy het twaalf manne gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle moes by Hom bly. Hy wou hulle stuur sodat hulle kon gaan preek.

15. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag.

16. Jesus het twaalf apostels gekies en aangestel. Hy het vir Simon die naam Petrus gegee,

17. en Hy het vir Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus, die naam Boanerges gegee. Dit beteken “Manne van die donderweer.”

18. Die ander apostels was: Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die patriot,

19. en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.

20. Daarna het Jesus huis toe gegaan. Daar het weer so baie mense bymekaargekom dat Hy en sy dissipels nie kon eet nie.

21. Toe Jesus se familie dit hoor, het hulle gegaan om Hom daar weg te vat, want party mense het gesê: “Hy is mal!”

22. Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het gesê: “Beëlsebul, die leier van die duiwels, is in hom. Beëlsebul help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.”

23. Jesus het die mense geroep om nader te kom en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Hoe kan die Satan homself uitjaag? Hy kan nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 3