Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 16:2-11 Bybel vir Almal (ABA)

2. Baie vroeg die Sondag-oggend, net nadat die son opgekom het, het hulle by die graf gekom.

3. Hulle het aangehou om vir mekaar te vra: “Wie sal vir ons die klip voor die graf wegrol?”

4. Die klip was baie groot, maar toe hulle kyk, sien hulle iemand het klaar die klip voor die graf weggerol.

5. Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ’n jongman wat regs in die graf sit. Hy het lang wit klere aangehad. Die vroue was baie bang.

6. Die man het vir hulle gesê: “Moenie skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret wat gekruisig is. Hy lewe weer, Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam gesit het.

7. Gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus: ‘Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is soos Hy vir julle gesê het.’ ”

8. Die vroue het uit die graf gegaan en weggehardloop. Hulle het gebewe, want hulle het groot geskrik. Hulle het vir niemand iets vertel nie, want hulle was baie bang.

9. Jesus het vroeg die Sondag-oggend weer begin lewe. Hy het eerste aan Maria Magdalena verskyn. Dit is die vrou uit wie Jesus voorheen sewe duiwels uitgejaag het.

10. Sy het vir die dissipels wat altyd saam met Hom was, gaan vertel dat Jesus aan haar verskyn het. Hulle was nog besig om te huil en te treur.

11. Toe hulle hoor Jesus lewe en Maria het Hom gesien, het hulle dit nie geglo nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 16