Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:51-67 Bybel vir Almal (ABA)

51. Daar was ’n jongman wat saam met Jesus gegaan het. Hy het nie klere aangehad nie, net ’n stuk lap om sy liggaam. Die mense het hom gegryp en probeer om hom vas te hou,

52. maar hy het die lap daar gelos en kaal weggehardloop.

53. Die mense het Jesus weggevat na die hoëpriester toe, en al die priesterleiers en die familieleiers en die skrifgeleerdes het daar bymekaargekom.

54. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het saam met die wagte by die vuur gaan sit en hy het homself warm gemaak.

55. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad het iets gesoek om Jesus te beskuldig sodat hulle Hom kon doodmaak, maar hulle het niks gekry nie.

56. Baie mense het vertel wat Jesus gedoen het, maar nie een van hulle het die waarheid gepraat nie, hulle stories was nie dieselfde nie.

57. Party mense het opgestaan en hulle het leuens vertel oor Jesus. Hulle het gesê:

58. “Ons het gehoor Jesus sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat mense gebou het, afbreek en Ek sal in drie dae ’n ander tempel bou. Dit sal nie mense wees wat hierdie tempel bou nie.’ ”

59. Maar ook hieroor het die mense nie dieselfde gepraat nie.

60. Die hoëpriester het in die vergadering opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?”

61. Maar Jesus het stilgebly, Hy het niks geantwoord nie. Toe vra die hoëpriester vir Hom: “Is jy die Christus, die Seun van God vir wie ons moet prys?”

62. Jesus het gesê: “Ja, Ek is! En julle sal sien Ek, die Seun van die mens, sit op die belangrikste plek langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.”

63. Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Ons het nou genoeg gehoor.

64. Julle het gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?”Almal het gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak.

65. Party van die mense het op Jesus gespoeg. Hulle het sy oë toegebind en hulle het Hom met hulle vuiste geslaan en vir Hom gesê: “Wys vir ons jy is ’n profeet!”Die wagte het Hom weggevat en hulle het Hom geklap.

66. Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het daarnatoe gekom.

67. Sy het vir Petrus gesien, hy het by die vuur gesit om homself warm te maak. Sy het lank na hom gekyk en vir hom gesê: “Jy was ook saam met Jesus, die man van Nasaret.”

Lees volledige hoofstuk Markus 14