Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13:28-37 Bybel vir Almal (ABA)

28. Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer ’n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby.

29. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom.

30. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur.

31. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.”

32. “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit.

33. Julle moet wakker en gereed wees, want julle weet nie wanneer daardie dag sal kom nie.

34. “Dit is soos ’n man wat ’n tyd lank weggaan van sy huis. Hy het vir sy slawe gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het ook vir elkeen sy werk gegee wat hy moes doen. Hy het vir die deurwagter gesê hy moet wakker wees.

35. Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis sal terugkom nie. Julle weet nie of dit laat in die aand sal wees of in die middel van die nag of wanneer die haan begin kraai of vroeg in die oggend nie.

36. Wanneer die eienaar skielik terugkom, dan moet julle nie slaap nie.

37. Ek sê dit vir julle en Ek sê dit vir almal: Julle moet wakker bly!”

Lees volledige hoofstuk Markus 13