Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Toe Jesus wegstap van die tempel, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meneer, kyk na hierdie groot klippe en hierdie groot geboue!”

2. Jesus het vir hom gesê: “Sien jy hierdie groot geboue? Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie. Dit is seker.”

3. Jesus het op die Olyf-berg naby die tempel gaan sit. Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas het Hom begin uitvra toe hulle alleen by Hom was. Hulle het vir Jesus gevra:

4. “Sê vir ons: Wanneer sal die dinge gebeur waarvan U gepraat het? Hoe sal ons weet wanneer dit gaan gebeur? Watter teken sal vir ons wys wanneer dit die einde van alles sal wees?”

5. Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie.

6. Baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ Hulle sal baie mense bedrieg.

7. Julle moenie skrik wanneer julle hoor daar is oorlog nie, naby julle of ver van julle. Hierdie dinge móét gebeur, maar dit is nog nie die einde van alles nie.

8. Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van ’n ander land veg. Daar sal aardbewings op baie plekke wees, en die mense sal min kos hê om te eet. Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry.

9. Maar julle, julle moet wakker en versigtig wees, want die mense sal julle na die hof toe vat. Hulle sal julle met swepe slaan in die sinagoges. Julle sal voor goewerneurs en konings in die hof moet staan omdat julle aan My behoort. Dan kan julle vir hulle van My vertel.

10. Al die volke moet eers die goeie boodskap hoor.

11. Wanneer die mense julle vang en hof toe vat, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle sal sê nie. God sal vir julle sê wat julle dan moet sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, dit sal die Heilige Gees wees wat praat.

12. Een broer sal ’n ander broer hof toe vat en vra dat die hof hom moet straf en doodmaak, en so sal ’n pa ook sy kind hof toe vat. Kinders sal opstandig wees teen hulle ouers en hulle sal hulle ouers laat doodmaak.

Lees volledige hoofstuk Markus 13