Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:30-41 Bybel vir Almal (ABA)

30. Simon se skoonma was siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad en die mense het dadelik vir Jesus vertel dat sy siek is.

31. Jesus het na haar toe gegaan, Hy het haar hand geneem en Hy het haar gehelp om op te staan. Die koors het weggegaan, en sy het vir hulle kos gegee.

32. In die aand toe die son al onder was en die Sabbatdag verby was, het hulle aangehou om baie mense na Jesus toe te bring, siek mense en mense wat duiwels in hulle gehad het.

33. Al die mense van die stad het bymekaargekom by die deur van die huis.

34. Jesus het baie mense gesond gemaak wat verskillende soorte siektes gehad het. Hy het ook baie duiwels uit die mense gejaag. Jesus het gesê die duiwels mag nie praat nie, want die duiwels het geweet wie Hy is.

35. Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na ’n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid.

36. Simon en sy vriende het vir Jesus gaan soek

37. en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38. Maar Jesus antwoord hulle: “Kom ons gaan weg na die stede hier naby, want Ek wil daar ook gaan preek. Dit is hoekom Ek gekom het.”

39. Jesus het toe deur die hele provinsie Galilea gegaan en Hy het in hulle sinagoges gepreek. Hy het ook duiwels uit mense uitgejaag.

40. ’n Melaatse man het na Jesus toe gekom. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesoebat: “As U wil, dan kan U my gesond maak.”

41. Jesus was baie jammer vir die man. Hy het sy hand uitgesteek en Hy het aan hom geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.”

Lees volledige hoofstuk Markus 1