Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:18-28 Bybel vir Almal (ABA)

18. Eendag was Jesus alleen, Hy was besig om te bid. Die dissipels was daar naby Hom. Jesus vra toe vir hulle: “Wat sê die mense, wie is Ek?”

19. Die dissipels het vir Hom gesê: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party mense sê U is Elia, en ander mense sê U is een van die profete wat lank gelede gelewe het en wat nou weer begin lewe het.”

20. Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê júlle? Wie sê júlle is Ek?”Petrus het geantwoord: “U is die Christus van God.”

21. Jesus het toe vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie.

22. Hy het ook gesê dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe.

23. Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg.

24. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red.

25. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks.

26. As iemand My nie wil ken nie en nie wil glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is.

27. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”

28. Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem. Hy het teen ’n berg opgegaan om daar te bid.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9