Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus het die twaalf dissipels geroep. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag en siek mense gesond te maak.

2. Hy het die dissipels gestuur om vir die mense te vertel God is Koning en Hy regeer. Die dissipels moes ook siek mense gesond maak.

3. Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle mag niks saamneem wanneer julle gaan nie. Julle mag nie ’n kierie of ’n rugsak of kos of geld saamneem nie. Julle mag net die klere saamneem wat julle aanhet.

4. As mense julle uitnooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad.

5. En as die mense julle nie daar wil laat bly nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.”

6. Die dissipels het na al die dorpies gegaan en hulle het die goeie boodskap vir die mense gebring. Hulle het ook oral mense gesond gemaak.

7. Koning Herodes het gehoor van al die dinge wat gebeur het. Hy het baie gewonder wie Jesus is, want die mense het baie verskillende dinge oor Jesus gesê. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer.”

8. Party mense het gesê: “Jesus is Elia wat nou gekom het.”Ander mense het gesê: “Jesus is ’n profeet, hy is een van die profete wat lank gelede gelewe het, en wat nou weer lewe.”

9. Maar Herodes het gesê: “Nee, Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap. Ek hoor al die dinge van hierdie man, maar ek weet nie wie hy is nie.”Herodes wou graag self vir Jesus sien.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9