Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:3-21 Bybel vir Almal (ABA)

3. Die offisier het gehoor van Jesus. Hy het party van die Joodse leiers na Jesus toe gestuur. Hulle moes vir Jesus sê die offisier vra Jesus moet asseblief die slaaf kom gesond maak.

4. Die leiers kom toe by Jesus en soebat en sê vir Hom: “Hierdie offisier is ’n baie goeie man. U moet asseblief sy slaaf gesond maak.

5. Die offisier is lief vir die Joodse volk en hy het ook ons sinagoge gebou.”

6. Jesus het saam met hulle gegaan. Toe Hy naby die offisier se huis kom, kom ’n paar van die offisier se vriende na Jesus toe. Hulle het vir Jesus ’n boodskap van die offisier gebring. Hulle het gesê die offisier sê: “Here, dit is nie nodig dat U kom nie. Ek is nie ’n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kom nie.

7. Dit is hoekom ek nie self na U toe gegaan het nie. Ek is nie goed genoeg nie. U kan net sê dat my slaaf gesond moet word, dan sal hy gesond word.

8. Ek is self ’n man wat moet doen wat ’n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir ’n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.”

9. Toe Jesus dit hoor, was Hy verbaas. Hy draai toe om na die mense wat saam met Hom geloop het en Hy sê vir hulle: “Ek sê vir julle, Ek het nog nooit ’n Israeliet gesien wat so sterk glo nie.”

10. Toe die offisier se vriende weer by sy huis kom, het hulle gesien die slaaf is heeltemal gesond.

11. Nie lank daarna nie het Jesus na die stad Nain gegaan. Sy dissipels en baie ander mense het saam met Hom gegaan.

12. Toe Jesus naby die poort van die stad kom, sien Hy mense wat na ’n graf toe loop om iemand te begrawe. Dit was ’n weduwee se enigste seun wat gesterf het. Baie van die stad se mense was saam met haar.

13. Toe die Here haar sien, was Hy baie jammer vir haar en Hy het vir haar gesê: “Jy moenie huil nie.”

14. Jesus gaan toe nader en raak aan die kis waarin hulle die lyk van die jongman gedra het. Die manne wat die lyk gedra het, het gaan staan. Toe sê Jesus: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op.”

15. Die jongman wat dood was, het regop gesit en hy het begin praat. So het Jesus die jongman teruggegee vir sy ma.

16. Al die mense was verbaas en bang oor wat gebeur het. Hulle het God geprys en gesê: “’n Belangrike profeet het by ons gekom.”Hulle het ook gesê: “God het sy volk kom help.”

17. Die mense in die hele provinsie Judea en die plekke daar naby het gehoor wat Jesus hier gedoen het.

18. Die dissipels van Johannes die Doper het vir hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes roep toe twee van sy dissipels

19. en stuur hulle na die Here toe om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir ’n ander Een wag?”

20. Johannes se dissipels het by Jesus gekom en gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om vir U te vra of U die Christus is wat moes kom, en of ons vir ’n ander Een moet wag.”

21. Jesus was besig om baie mense gesond te maak wat siek was. Hy het ook bose geeste uit mense gejaag en Hy het baie blinde mense weer laat sien.

Lees volledige hoofstuk Lukas 7