Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:14-23 Bybel vir Almal (ABA)

14. Jesus gaan toe nader en raak aan die kis waarin hulle die lyk van die jongman gedra het. Die manne wat die lyk gedra het, het gaan staan. Toe sê Jesus: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op.”

15. Die jongman wat dood was, het regop gesit en hy het begin praat. So het Jesus die jongman teruggegee vir sy ma.

16. Al die mense was verbaas en bang oor wat gebeur het. Hulle het God geprys en gesê: “’n Belangrike profeet het by ons gekom.”Hulle het ook gesê: “God het sy volk kom help.”

17. Die mense in die hele provinsie Judea en die plekke daar naby het gehoor wat Jesus hier gedoen het.

18. Die dissipels van Johannes die Doper het vir hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes roep toe twee van sy dissipels

19. en stuur hulle na die Here toe om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir ’n ander Een wag?”

20. Johannes se dissipels het by Jesus gekom en gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om vir U te vra of U die Christus is wat moes kom, en of ons vir ’n ander Een moet wag.”

21. Jesus was besig om baie mense gesond te maak wat siek was. Hy het ook bose geeste uit mense gejaag en Hy het baie blinde mense weer laat sien.

22. Jesus sê toe vir Johannes se dissipels: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is weer gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is.

23. En God sal mense seën wat aanhou om in My te glo.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 7