Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus en sy dissipels het op ’n Sabbatdag deur ’n koringland geloop. Die dissipels het van die koring-are gepluk en hulle het die korrels met hulle hande uitgevryf en dit geëet.

2. Toe vra party van die Fariseërs: “Hoekom doen julle iets wat ’n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?”

3. Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was?

4. Dawid het in ’n tempel ingegaan en hy het die brood geneem wat net die priesters mag eet. Dawid het dit geëet en hy het ook vir sy manne daarvan gegee.”

5. Jesus sê toe vir hulle: “Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”

6. Op ’n ander Sabbatdag het Jesus na die sinagoge gegaan en Hy het vir die mense geleer. Daar was ’n man, sy regter-hand was gebreklik.

7. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Jesus dopgehou om te kyk of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. As Jesus dit doen, dan wou hulle Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het.

8. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.”Die man het gedoen wat Jesus gesê het.

9. Jesus sê toe vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs: “Sê vir My, mag ’n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag ’n mens iemand se lewe red, of mag ’n mens hom doodmaak?”

10. Jesus het na al die mense rondom Hom gekyk en Hy het vir die man gesê: “Steek jou hand uit.”Die man het dit gedoen, en toe was sy hand gesond.

11. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het planne gemaak en gedink wat hulle met Jesus kan doen.

12. Nie lank daarna nie het Jesus na die berg gegaan om daar te bid. Hy het die hele nag tot God gebid.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6