Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:44-56 Bybel vir Almal (ABA)

44. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Dit het donker geword oor die hele land. Dit was donker tot drie-uur die middag.

45. Toe dit donker word, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur.

46. En Jesus het hard gesê: “Vader, Ek gee myself vir U.”Nadat Jesus dit gesê het, het Hy gesterf.

47. Die kaptein van die Romeinse soldate het gesien wat gebeur. Hy het God geprys en gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig.”

48. Daar was baie mense wat kom kyk het wat gebeur. Hulle was jammer dat dit gebeur het en hulle het hulleself op die bors geslaan. Toe het hulle teruggegaan na hulle huise in die stad.

49. Maar al die mense wat vir Jesus geken het, ook die vroue wat saam met Jesus van Galilea gekom het, het daar gebly staan, ’n bietjie verder weg. Almal, ook die vroue, het gesien hoe Jesus sterf en wat alles gebeur.

50. Daar was ’n man, sy naam was Josef. Hy was ’n lid van die Joodse Raad en hy was ’n goeie man wat gehoorsaam was aan al die Wette van Moses.

51. Josef het gedink die Raad het verkeerd besluit oor Jesus. Josef het gekom van die Joodse stad Arimatea. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal.

52. Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus kan kry.

53. Toe het Josef die liggaam van die kruis afgehaal en hy het dit in lap toegedraai. Hy het die liggaam in ’n graf gesit wat hulle in ’n rots gekap het. Hulle het nog nie voorheen iemand in daardie graf begrawe nie.

54. Dit het alles op die Vrydag gebeur, en daarna het die Sabbatdag begin.

55. Die vroue wat saam met Jesus gekom het van Galilea, het die graf gesien en hulle het ook gesien hoe Josef die liggaam van Jesus in die graf sit.

56. Daarna het die vroue teruggegaan na die stad. Hulle het lekkerruik-olie en salf gereedgemaak, hulle wou dit later aan Jesus se liggaam smeer. Maar op die Sabbatdag het hulle eers gerus, soos die Wette van Moses sê.

Lees volledige hoofstuk Lukas 23