Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:27-41 Bybel vir Almal (ABA)

27. Baie mense het agter Jesus geloop. Party van die vroue het hulleself op die bors geslaan en hulle het oor Jesus gehuil.

28. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Vroue van Jerusalem, julle moenie oor My huil nie. Julle moet oor julleself huil en oor julle kinders.

29. Julle moet weet, daar sal ’n tyd kom wanneer die mense sal sê vroue wat nie kinders kan hê nie, en ook vroue wat nooit kinders gehad het nie, is gelukkige mense.”

30. Jesus het ook gesê: “In daardie tyd sal die mense vir die berge en die heuwels sê: ‘Julle moet op ons val! Julle moet ons toemaak!’

31. Ek sê dit, want Ek is onskuldig, en kyk wat gebeur met My. Julle kan self dink wat sal gebeur met Jerusalem, Jerusalem wat skuldig is.”

32. Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms.

33. Hulle kom toe by ’n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom.

34. Toe sê Jesus: “Vader, U moet die mense vergewe wat My kruisig, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”Die soldate wat vir Jesus gekruisig het, het Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry.

35. Al die mense het daar gestaan en kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het vir Jesus gespot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, nou moet Hy Homself red as Hy die Christus van God is, as God Hom gekies het om Koning te wees.”

36. Die soldate het ook vir Jesus gespot. Hulle wou hê Hy moet suur wyn drink.

37. Hulle het gesê: “As jy die koning van die Jode is, dan moet jy jouself red.”

38. Bo-aan die kruis het hulle op ’n plank geskryf hoekom hulle vir Jesus gekruisig het. Hulle het daarop geskryf: “Hierdie man is die koning van die Jode.”

39. Een van die skelms wat langs Jesus aan ’n kruis gehang het, wou vir Jesus verneder en hy het gesê: “O, jy sê jy is die Christus. Dan moet jy jouself red en ook vir ons.”

40. Maar die ander skelm het gesê hy moet stilbly. Hy het gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Want hulle straf jou soos hulle vir Jesus straf.

41. Dit is reg dat hulle ons straf, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar Jesus het niks verkeerd gedoen nie.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 23