Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 20:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus was eendag by die tempel besig om vir die mense te leer. Hy het vir hulle die goeie boodskap gebring dat God Koning is. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes saam met die familieleiers het na Hom toe gekom

2. en hulle het vir Hom gevra: “Hoekom dink jy dat jy hierdie dinge mag doen? Wie het gesê jy mag dit doen?”

3. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal vir julle ook ’n vraag vra, en dan moet julle vir My antwoord.

4. Johannes die Doper het mense gedoop. Wie het hom gestuur om dit te doen? Was dit God, of was dit mense?”

5. Die Joodse leiers het daaroor met mekaar gepraat en gesê: “As ons sê: ‘God het hom gestuur,’ dan sal Jesus vra: ‘Hoekom het julle nie geglo wat Johannes gesê het nie?’

6. Maar ons kan ook nie sê: ‘Dit was mense wat vir Johannes gestuur het om te doop’ nie. As ons dit sê, dan sal al die mense ons met klippe wil doodgooi, want hulle het geglo Johannes is ’n profeet.”

7. Daarom het hulle vir Jesus gesê hulle weet nie wie vir Johannes gestuur het nie.

8. Toe sê Jesus vir hulle: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.”

9. Toe begin Jesus vir die mense hierdie gelykenis vertel. Hy het gesê: “’n Man het ’n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Daarna het hy gesê ander mense mag die wingerd huur. Toe het hy ’n lang tyd weggegaan.

Lees volledige hoofstuk Lukas 20