Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 19:10-22 Bybel vir Almal (ABA)

10. Ek, die Seun van die mens, het gekom om almal wat verlore is, te soek en te red.”

11. Jesus het nog iets gesê vir die mense wat na Hom geluister het. Hy het vir hulle ’n gelykenis vertel. Hy het dit gedoen omdat Hy naby Jerusalem was en omdat die mense gedink het wanneer Jesus in Jerusalem kom, dan sal God dadelik Koning word en regeer. Maar Jesus wou vir hulle reg leer.

12. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Daar was ’n man, hy was ’n koning se seun. Hy het na ’n ver land gegaan om eers daar koning te word. Daarna sou hy terugkom en koning wees oor sy eie mense.

13. Toe roep hy tien van sy slawe en hy gee vir hulle tien geldstukke en sê: ‘Julle moet met hierdie geld baie dinge koop en dit weer verkoop en meer geld kry totdat ek terugkom.’

14. Maar baie van die mense het niks van die koning se seun gehou nie, en nadat hy weggegaan het, het hulle boodskappers na hom toe gestuur om vir hom te sê: ‘Ons wil nie hê jy moet koning wees oor ons nie.’

15. Maar die man het koning geword. Hy het teruggekom en toe laat roep hy die slawe vir wie hy die geld gegee het. Hy het vir hulle gevra wat hulle met die geld gedoen het. Hy wou weet wat hulle gekoop en verkoop het.

16. Die eerste slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog tien geldstukke daarby.’

17. Die koning het vir hom gesê: ‘Dit is goed. Jy is ’n goeie slaaf. Ek gee nou vir jou tien stede, jy moet oor hulle regeer, want jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het.’

18. Toe kom die tweede slaaf en hy sê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog vyf geldstukke daarby.’

19. Die koning het ook vir hierdie slaaf gesê: ‘Ek gee vir jou vyf stede, jy moet oor hulle regeer.’

20. “’n Derde slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die geldstuk wat jy gegee het. Ek het dit mooi toegedraai in ’n lap en ek het dit gebêre,

21. want ek was bang vir jou omdat jy kwaai is. Jy vat van mense goed wat jy nie gegee het nie, en jy sny koring af wat jy nie gesaai het nie.’

22. Toe sê die koning vir hom: ‘Jy is ’n slegte slaaf, jy het nou self gesê hoekom ek jou moet straf. Jy het geweet ek is kwaai, ek vat van mense goed wat ek nie gegee het nie en ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 19