Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 16:20-31 Bybel vir Almal (ABA)

20. Maar by sy hek het daar ’n arm bedelaar gelê. Sy naam was Lasarus. Hy was vol sere.

21. Lasarus het gewens hy kan eet van die kos wat van die ryk man se tafel afval. Die honde het altyd gekom en hulle het Lasarus se sere gelek.

22. Toe het die arm bedelaar gesterf, en die engele het hom weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf, en hulle het hom begrawe.

23. Toe die ryk man wakker word in die doderyk, het hy baie pyn gehad. Hy het daar ver vir Lasarus by Abraham gesien.

24. Die ryk man roep toe en sê: ‘Vader Abraham, jy moet asseblief jammer wees vir my en jy moet vir Lasarus stuur sodat hy die punt van sy vinger met water kan natmaak en my tong kan koud maak, want ek het baie pyn in hierdie vuur.’

25. Toe sê Abraham: ‘Kind, jy moet onthou dat jy in jou lewe op die aarde al die lekker dinge gehad het. Lasarus het die slegte dinge gehad. Nou troos God hier vir Lasarus, maar jy het pyn.

26. En daar is ook ’n diep kloof tussen ons en julle. Die mense wat hier is, kan nie na julle toe gaan nie. En die mense daar by julle kan ook nie na ons toe kom nie.’

27. Die ryk man het gesê: ‘Ek vra mooi, stuur dan asseblief vir Lasarus na my pa se huis,

28. want ek het vyf broers. Hy moet hulle waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyn kom nie.’

29. Toe sê Abraham vir die ryk man: ‘Jou broers het die boeke van Moses en die boeke van die profete, jou broers moet na húlle luister.’

30. Maar die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham, as een van die mense wat dood is, na my broers toe gaan, dan sal hulle verander en doen wat God wil hê.’

31. Maar Abraham het gesê: ‘As hulle nie doen wat die boeke van Moses en die profete sê nie, dan sal hulle ook nooit luister na iemand wat weer begin lewe het nie.’ ”

Lees volledige hoofstuk Lukas 16