hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 16 Bybel vir Almal (ABA)

Die gelykenis van die skelm bestuurder

1. Jesus het vir die dissipels gesê: “’n Ryk man het ’n bestuurder gehad wat gekyk het dat dit goed gaan met sy geld en sy besigheid. Maar die werkers het vir die ryk man gaan vertel dat die bestuurder die ryk man se geld mors.

2. Toe roep die ryk man sy bestuurder en hy sê vir hom: ‘Ek hoor slegte stories oor jou. Bring al die boeke vir my sodat ek kan sien wat jy gedoen het. As die stories waar is, dan kan jy nie meer my bestuurder wees nie.’

3. Die bestuurder het toe gedink: Wat sal ek doen? Ek dink my hoof gaan my wegjaag. Ek kan nie goed werk met my hande nie, en ek is te skaam om te bedel.

4. Ek weet wat ek sal doen sodat mense my na hulle huise sal uitnooi nadat die hoof my weggejaag het.

5. Toe het die bestuurder al die mense laat roep wat vir sy hoof iets skuld. Hy het vir die eerste man gevra: ‘Hoeveel skuld jy vir my hoof?’

6. Die man het geantwoord: ‘Ek skuld 100 vate olyf-olie.’ Die bestuurder sê toe: ‘Neem jou rekening en verander dit gou na 50 vate.’

7. Daarna het die bestuurder vir ’n ander man gevra: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Die man het geantwoord: ‘Ek skuld 100 sakke koring.’ Die bestuurder het gesê: ‘Neem jou rekening en verander dit na 80 sakke.’

8. Toe die hoof dit hoor, het hy gesê die bestuurder het ’n slim ding gedoen. Hy het gesê die skelm mense in die wêreld weet beter hoe hulle vir mekaar moet sorg. Hulle weet dit beter as die mense wat vir God dien.”

9. Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Ek sê vir julle, die mense van die wêreld gebruik baie maal hulle geld en hulle goed verkeerd, maar julle moet julle geld en julle goed reg gebruik, julle moet ander mense help. Dan sal julle welkom wees in God se ewige huis wanneer die aarde se tyd verby is en mense nie meer iets sal hê nie.

10. Iemand wat goed werk met iets wat nie kosbaar is nie, sal ook goed werk met die dinge wat kosbaar is, die dinge wat God gee. Maar iemand wat sleg werk met iets wat nie kosbaar is nie, sal ook sleg werk met die dinge wat kosbaar is, die dinge wat God gee.

11. As julle die geld en goed verkeerd gebruik wat God in hierdie wêreld gee, dan sal God nie vir julle dinge gee wat kosbaar is nie.

12. En as julle nie reg werk met ander mense se goed nie, dan sal God ook nie vir julle iets gee wat aan julle kan behoort nie.

13. ’n Werker kan nie vir twee persone werk nie, want hy sal niks hou van die een persoon nie en hy sal baie hou van die ander persoon, óf hy sal hard werk vir die een persoon en hy sal niks wil doen vir die ander persoon nie. Julle kan nie vir God dien en óók dink geld en goed is ook so belangrik soos Hy nie.”

Die boeke van Moses, en God wat Koning is

14. Toe die Fariseërs al hierdie dinge hoor, het hulle vir Jesus uitgelag, want hulle was baie lief vir geld.

15. En Jesus het vir die Fariseërs gesê: “Wanneer die mense julle kan sien, dan maak julle of julle baie goed is, maar God ken julle harte. Party dinge wat vir mense wonderlik is, is dinge waarvan God niks hou nie.

16. Die boeke van Moses en die boeke van die profete van die Ou Testament was belangrik totdat Johannes die Doper gekom het. Maar vandat Johannes die Doper gekom het, het Ek, Jesus, die goeie boodskap gebring dat God Koning is. En elkeen probeer baie hard om te wees by God wat Koning is.

17. Maar julle moet onthou, die hemel en die aarde sal makliker verdwyn as een letter-strepie van die boeke van Moses.

18. Daarom, wanneer iemand skei van sy vrou en met ’n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk. En iemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk.”

Die gelykenis van die ryk man en Lasarus

19. “Daar was ’n ryk man wat pragtige klere gedra het. Hy het elke dag die beste dinge in die wêreld geniet.

20. Maar by sy hek het daar ’n arm bedelaar gelê. Sy naam was Lasarus. Hy was vol sere.

21. Lasarus het gewens hy kan eet van die kos wat van die ryk man se tafel afval. Die honde het altyd gekom en hulle het Lasarus se sere gelek.

22. Toe het die arm bedelaar gesterf, en die engele het hom weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf, en hulle het hom begrawe.

23. Toe die ryk man wakker word in die doderyk, het hy baie pyn gehad. Hy het daar ver vir Lasarus by Abraham gesien.

24. Die ryk man roep toe en sê: ‘Vader Abraham, jy moet asseblief jammer wees vir my en jy moet vir Lasarus stuur sodat hy die punt van sy vinger met water kan natmaak en my tong kan koud maak, want ek het baie pyn in hierdie vuur.’

25. Toe sê Abraham: ‘Kind, jy moet onthou dat jy in jou lewe op die aarde al die lekker dinge gehad het. Lasarus het die slegte dinge gehad. Nou troos God hier vir Lasarus, maar jy het pyn.

26. En daar is ook ’n diep kloof tussen ons en julle. Die mense wat hier is, kan nie na julle toe gaan nie. En die mense daar by julle kan ook nie na ons toe kom nie.’

27. Die ryk man het gesê: ‘Ek vra mooi, stuur dan asseblief vir Lasarus na my pa se huis,

28. want ek het vyf broers. Hy moet hulle waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyn kom nie.’

29. Toe sê Abraham vir die ryk man: ‘Jou broers het die boeke van Moses en die boeke van die profete, jou broers moet na húlle luister.’

30. Maar die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham, as een van die mense wat dood is, na my broers toe gaan, dan sal hulle verander en doen wat God wil hê.’

31. Maar Abraham het gesê: ‘As hulle nie doen wat die boeke van Moses en die profete sê nie, dan sal hulle ook nooit luister na iemand wat weer begin lewe het nie.’ ”