Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 13:3-17 Bybel vir Almal (ABA)

3. Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer sonde gedoen as die ander mense nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf.

4. En onthou julle daardie 18 mense wat almal gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Dink julle hulle het meer verkeerd gedoen as al die ander mense wat in Jerusalem woon?

5. Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer verkeerd gedoen nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf.”

6. Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: “Iemand het ’n vyeboom gehad wat in sy wingerd gegroei het. Hy het gaan kyk of daar vye aan die boom is maar hy het niks vye gekry nie.

7. Die man sê toe vir die man wat in die wingerd werk: ‘Dit is nou die derde jaar dat ek kom kyk of daar vye aan die boom is, maar elke jaar kry ek niks. Jy moet nou hierdie vyeboom uitkap, want dit maak net die grond droog.’

8. Toe sê die man wat in die wingerd werk: ‘Meneer, laat die vyeboom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom die boom omspit en ek sal dit mis gee.

9. En as die boom volgende jaar vye dra, dan is dit goed. Maar as daar weer niks vye is nie, dan kan jy die boom uitkap.’ ”

10. Jesus was op die Sabbatdag besig om die mense te leer in die sinagoge.

11. Daar was ’n vrou wat gebreklik was, ’n onrein gees het haar 18 jaar lank gebreklik gemaak. Sy het krom geloop en sy kon nie regop staan nie.

12. Toe Jesus haar sien, het Hy haar geroep en vir haar gesê: “Mevrou, God maak jou gesond.”

13. Toe sit Jesus sy hande op haar, en sy het dadelik regop geloop en begin om God te prys.

14. Die leier van die sinagoge was baie ontevrede omdat Jesus iemand op die Sabbatdag gesond gemaak het. Die leier het vir die mense gesê: “Daar is ses dae wanneer ’n mens moet werk. Julle kan op daardie dae kom as julle gesond wil word. Julle moenie op die Sabbatdag kom nie.”

15. Maar die Here het vir hom gesê: “Julle is skynheilig. Elkeen van julle maak op die Sabbatdag sy bees of donkie los waar hy by die krip staan en vreet, en julle lei hom weg sodat hy kan water drink.

16. Dit is dieselfde met hierdie vrou. Sy is een van ons, ’n Israeliet. En onthou, die Satan het haar 18 jaar lank vasgebind. Is dit dan verkeerd om haar op die Sabbatdag los te maak?”

17. Toe Jesus dit sê, het sy vyande nie geweet wat om te antwoord nie. Maar al die ander mense was baie bly oor al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 13