Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:3-22 Bybel vir Almal (ABA)

3. Dieselfde sal gebeur wanneer julle die goeie boodskap oor My vir die mense bring. Alles wat julle nou oor My in die donker sê omdat julle bang is, sal God vir almal laat weet wanneer dit lig is. En alles wat julle nou oor My vir iemand in ’n huis saggies fluister in sy oor, sal God vir almal laat weet. Mense sal dan op die huise se dakke staan en skree en dit vir almal sê.”

4. “Julle is my vriende. Daarom sê Ek vir julle dat julle nie bang moet wees vir mense nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak. Maar daarna kan hulle niks meer aan julle doen nie.

5. Ek sal vir julle wys vir wie julle bang moet wees. Julle moet net vir God bang wees, want wanneer julle dood is, dan kan Hy julle in die hel laat brand. Ja, Ek sê vir julle, julle moet vir Gód bang wees.

6. ’n Mens kan vyf mossies vir net twee sent verkoop. Hulle is baie goedkoop, maar God vergeet nie een van daardie klein voëltjies nie.

7. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.”

8. Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, as iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, ook vir God se engele sê daardie persoon behoort aan My.

9. Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek ook vir God se engele sê daardie persoon behoort nie aan My nie.

10. As iemand iets sê teen My, die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nie vergewe nie.

11. En wanneer die mense julle na die Joodse regters in die sinagoges vat of wanneer hulle julle hof toe vat, na heidense regters toe, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet antwoord of wat julle moet sê nie.

12. Die Heilige Gees sal vir julle leer wat julle dan moet sê.”

13. Daar was baie mense, en een van hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, my broer erf baie goed. Sê vir hom hy moet vir my ook daarvan gee.”

14. Maar Jesus het vir hom gesê: “Man, Ek het nie gekom om regter oor julle te wees of om te besluit wat elkeen moet erf nie.”

15. Toe sê Jesus vir die mense: “Julle moet oppas, julle moenie meer en meer goed wil hê nie, want dit maak nie saak hoeveel goed ’n mens het nie, dit is nie belangrik vir jou lewe nie.”

16. Toe vertel Jesus vir hulle ’n gelykenis. Hy het gesê: “Daar was ’n ryk man wat baie koring afgesny het. Toe hulle die koring begin afsny,

17. het hy met homself gepraat en gesê: ‘Wat sal ek doen? Ek het nie genoeg plek waar ek al die koring kan bêre nie.’

18. Toe sê hy: ‘Ek weet wat ek sal doen: Ek sal my stoorkamers afbreek en nuwe stoorkamers bou wat groter is. Dan sal ek al my koring en ander goed daarin bêre.

19. En dan sal ek vir myself sê ek het nou baie goed wat ek gebêre het vir baie jare wat kom, nou kan ek lekker gaan rus, ek kan eet en drink en die lewe geniet.’

20. Maar toe het God vir die man gesê: ‘Jy is ’n dwaas, jy sal vannag sterf. En al daardie goed van jou wat jy so veilig weggebêre het, wat sal nou daarvan word?’

21. So gaan dit met ’n mens wat vir homself geld en mooi goed bymekaarmaak op die aarde, maar nie ryk is by God nie.”

22. Jesus het toe met sy dissipels gepraat en gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe, oor wat julle sal eet nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam, oor die klere wat julle moet aantrek nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12